Ek en my mense

PODCAST · religion

Ek en my mense

Hierdie boeiende podcast bring 'n reeks inspirerende stories van hoop. Elke episode bied aangrypende getuienisse, stories en opinies wat jou sal aanmoedig om te volhard en vas te hou aan die hoop wat daar in Christus is.

  1. 29

    Ep. 29 - Bywoners vertel oor "Geroep om te Floreer" kursus

    Drie persone wat onlangs die "Geroep om te Floreer" kursus bygewoon het, vertel oor hul ervaring en hoe hierdie kursus hul gehelp het om nuut oor hulself en hul gemeentes te dink. Vir meer inligting oor toekomstige kursusdatums, kontak Mathilda by [email protected]. Meer oor die kursus: https://kaapkerk.co.za/wp-content/uploads/2025/06/Geroep-om-te-floreer-.pdf

  2. 28

    Ep. 28 - Twee eerstejaar teologiestudente vertel oor roepings en drome

    09 Februarie was die opening van die Teologie Fakulteit in Stellenbosch. DJ Muller het met twee eerstejaar studente gesels oor hul pad tot hier en hul uitkyk op die pad vorentoe. Marnus Havenga deel ook later in die gesprek oor sy waarnemings oor roeping en teologiese opleiding in die breë.

  3. 27

    Ep. 27 – Digitale higiëne: Tyd vir briek aandraai?

    Het jy al gewonder hoekom dit so moeilik is om jou foon neer te sit – al weet jy jy spandeer te veel tyd daarop? Of hoekom jou kind se bui en selfbeeld so direk beïnvloed word deur wat op Instagram of TikTok gebeur? Ons gesels met dr. Yolinda Steyn, ’n ervare traumakundige en navorser wat al baie jare werk met kinders, jongmense en volwassenes. Haar navorsing en praktyk fokus onder andere op die invloed van sosiale media en hoe dit ons brein, ons verhoudings en ons gesondheid raak. Besoek Yolinda se webwerf vir gratis hulpmiddels en meer inligting: https://www.drsteyn.com/ Udemy Kursus

  4. 26

    Ep. 26 - Pyle van die bose en die engel in Oekraïne

    Tydens ’n onlangse besoek aan die oorloggeteisterde Oekraïne het ’n paar Suid-Afrikaners 'n groep vroue gaan ondersteun, veral rondom die sekondêre trauma wat hulle beleef. In hierdie episode vertel Dolf Du Plooy en Bernard Joubert hoe dit tans in Oekraïne lyk en hoe hulle sin maak van hul belewenisse. ’n Sleutelfiguur staan uit en help veral vir Dolf om anders na die oorlog te kyk - tot so ’n mate dat hy met ’n gevoel van hoop weer in Suid-Afrika aanland. Haar naam is Lisa, of “die engel in Oekraïne”, soos Dolf haar noem. Dolf is een van die leraars van Murray Gemeente in De Doorns, en Bernard die besturende direkteur van die Petra Instituut. Vir meer inligting oor Oekraïne of hoe jy ook betrokke kan raak, kontak Bernard Joubert: [email protected]

  5. 25

    Ep. 25 - Cohen-konferensie: Alles het ’n kraak en die lig skyn daardeur

    As jy die naam Leonard Cohen hoor, is daar waarskynlik twee moontlikhede. Óf jy ken hom as die growwe stem wat soos Bybelverse oor jou spoel. Óf jy onthou hom in Shrek, waar die treffende lied “Hallelujah” die wêreld se kinders (en grootmense) aangegryp het. Sy musiek is ryk aan kontraste: donker én lig, liefde én eensaamheid, lewe én dood. In hierdie spesiale episode neem Wilmi Wheeler jou terug na die Cohen-konferensie wat in Augustus 2025 in Wellington aangebied is. Ons verken ook hoe diep Bybelse temas deur Cohen se lirieke loop en hoekom sy musiek juis ’n gesprek oor geloof werd is.

  6. 24

    Ep. 24 - Nasionale Dialoog: Passie, aggressie en energie

    Ons gesels met Braam Hanekom oor sy bywoning van die eerste sitting van die Nasionale Dialoog. Hy het namens die Hoop en Versoening Trust daar gaan luister, deelneem en sy eie indrukke gevorm van wat besig is om in hierdie proses te gebeur. Die dialoog het duidelik ’n mengsel van hoop, pyn, woede en verwagting na vore gebring – en Braam se waarnemings help ons om beter te verstaan wat op die spel is vir Suid-Afrika.

  7. 23

    Ep. 23 - Deidre Jaftha: "'n Meisie soos ek, uit 'n area soos daai"

    Deidre Jaftha is ’n 24-jarige aspirant radio-omroeper en mentor by die Echo-huis in die Paarl. Sy het haar ma op tienjarige ouderdom verloor, maar danksy inspirerende vroue wat as rolmodelle opgetree het, is sy vandag self ’n bron van inspirasie en bemagtiging vir ander jong vroue. Een van die maniere waarop sy dit doen, is agter die mikrofoon by Radio KC. DJ Muller het met haar gesels oor die impak van haar ma se dood, haar betrokkenheid by die Echo-huis, en haar siening oor die rol wat radio in mense se lewens kan speel. Wil jy betrokke raak by ’n Echo-huis? Besoek gerus: • Isibindi: https://isibindi.org.za/ • Echo Jeugontwikkeling: https://www.echoyouth.co.za/

  8. 22

    Ep. 22 - Karel Verhoef vertel oor opwindende dinge by Radiokansel

    Dit is altyd lekker wanneer mense by ons kom kuier by die Sinodale kantoor in Bellville. Vandag het ds. Karel Verhoef, die Hoof Uitvoerende Beampte van Radio Kansel, by ons kom koffie drink. Hierdie tipe kuiers loop gereeld uit op ’n opname in ons ateljee – sodat ons ook iets van die kuier met jou kan deel. In hierdie episode gesels ons met Karel oor die opwindende dinge wat by Radio Kansel aan die gebeur is. So, welkom by hierdie kuier – maak gerus vir jou ook 'n koffie, en kuier saam. Radio Kansel: 012 334 1200 [email protected]

  9. 21

    Ep. 21 - Om gemeente te wees: Francois en Enel Lambrechts van Knysna Kerk

    Op ons storietoer deur die Suid-Kaap het ons in Knysna gaan kuier by Francois en Enel Lambrechts, ‘n leraarspaar wat passievol betrokke is by hul gemeente en gemeenskap. Wat aanvanklik net ‘n video oor hul kankerbediening sou wees, het vinnig uitgebrei na nog iets - ‘n eerlike refleksie oor diversiteit, gemeenskapsontwikkeling en die uitdagings én voorregte van dominee-wees. Kyk die video oor hul kankerbediening hier: https://youtu.be/KwoXrrvjgg0 In hierdie episode deel hulle die "good and the bad (uitdagings)" van ‘n gemeente wat aktief streef na diversiteit. Hulle gesels oor hoe verhoudings eerder as vinnige oplossings die sleutel is tot ware gemeenskapsontwikkeling en hoe hulle roeping as leraars nie is om alles self te doen nie, maar om ander toe te rus om ook hulle gawes uit te leef. Ons praat oor die spanningslyn tussen kerk-wees en ‘n NGO-wees, oor hoe ‘n geloofsgemeenskap mense moet help om werklik deel te word van ‘n gemeente, en nie net ‘n plek bied waar nood verlig word nie. Ons raak ook aan die unieke dinamika van ‘n man-en-vrou-span in dieselfde gemeente, en hoe hulle die balans probeer hou tussen bediening en gesinslewe. VIDEO: Kankerbediening

  10. 20

    Ep. 20 - Kerkbode Kollig word een jaar oud

    Kerkbode se podcast, Kollig, word op 19 Februarie ’n jaar oud. ’n Jaar gelede het die Kaapkerk-span saam met Kerkbode begin om ons kommunikasie-mediums uit te brei met ’n podcast. Dit was ’n jaar waarin baie lesse geleer is, ondervinding opgedoen is, en aangrypende stories gedeel is. Ek het met Heléne Meissenheimer en Le Roux Schoeman gesels oor die pad van die afgelope jaar. Heléne is ’n joernalis by Kerkbode en aanbieder van Kollig. Le Roux is die redakteur van Kerkbode. Ons gesels oor hoekom hulle met ’n podcast begin het, wat die impak daarvan is, en ook hoe dinge agter die skerms lyk. Deel jou stories: https://kerkbode.christians.co.za/kontak-ons/ Volledige onderhoud - prof Pieter Carstens: https://iono.fm/e/1420421

  11. 19

    Ep. 19 - Twee ma's help ander met geloofsgroei

    Corli en Mariëtte van MaWees kuier in die Kaapkerk-ateljee en deel inspirerende insigte oor hoe hulle ander ma’s ondersteun in hul geloofsreis. Hulle beskryf hulself nie as “professionele ma’s” nie, maar eerder as vroue wat elke dag saam met die Here stap, luister en leer om te word wie Hy hulle roep om te wees. Met nederigheid en oorgawe deel hulle hoe God se leiding hulle toerus om ander te bemoedig en te versterk. MaWees is ’n aanlyn gemeenskap van ma's en vroue wat graag saam, emosioneel en geestelik, wil groei. Web: https://www.mawees.co.za/ Tel.: 063 388 9337 E-pos: [email protected]

  12. 18

    Ep. 18 - Msinga se stof bly op my skoene

    'n Groep predikante en leiers vanuit die Wes-Kaap het onlangs die Msinga-gebied in KwaZulu-Natal besoek en deelgeneem aan verskeie bedieningsaktiwiteite by gemeentes. Die groep bestaan uit DJ Muller en Daniel De Wet (beide van Kaapkerk), Nati Stander (George-Bergsig), Albert Myburgh en Mizelle Prinsloo (beide van Durbanville-Bergsig). In hierdie episode gesels DJ met hulle, maar ook van die geestelike leiers in Msinga.

  13. 17

    Ep. 17 - Klein, maar getrou: Die kerk in Japan

    In hierdie episode gesels ons oor die werk van Missie Japan, ’n vennootskap tussen die NG Kerk in Suid-Afrika en die Gereformeerde Kerk in Japan. Ons gesels met Stéphan van der Watt, ’n sendeling wat al meer as 15 jaar in Japan werk, en Yoshitsugu Ohnishi, ’n Japannese pastoor en dosent in Ou Testament studies. Hulle deel hul ervarings van die verspreiding van die Evangelie in ’n land waar minder as 1% van die bevolking Christene is, en hoe diakonale werk ’n kragtige uitdrukking van Christus se liefde in aksie geword het. Van grondvlak-inisiatiewe in Suid-Afrika tot hulpverlening in Japan, hierdie gesprek beklemtoon die diep verbintenis tussen ons kerke en die voortdurende behoefte aan ondersteuning, gebed, en betrokkenheid van die wêreldwye Christelike gemeenskap. Kontak Stéphan (Missie Japan): • Webwerf: www.missiejapan.co.za • E-pos: [email protected]

  14. 16

    Ep. 16 - Ondersteunende Leierskap: Ryno Els oor jongmense en geloof

    In hierdie episode gesels ons met Ryno Els, van Toringkerk. Hy is ’n predikant met ’n vars perspektief op hoe ons die volgende generasie kan ondersteun in hul geestelike reis. Ryno deel sy insigte oor ’n reeks gesprekke wat hy onlangs met jongmense gehad het, waar die idee van ’n “bottom-up approach” na vore gekom het. Hy beskryf hoe hierdie jongmense pleit vir meer geloof as ’n bron van betekenis en sin, veral in ’n tyd waarin daar dikwels druk is om universele waardes bo spesifieke geloofsoortuigings te plaas. Die episode van "Onverwagse Oomblikke" waarna verwys word in die gesprek: https://iono.fm/e/1472534

  15. 15

    Ep. 15 - U2 Konferensie: "Gewyde seer..." (Deel 2/2)

    Op dag twee van die U2 konferensie, reflekteer ons oor 'n aangrypende aanbieding van die vorige aand. Dit gaan oor seerkry, brutale eerlikheid en die bediening. Ons hoor ook van die rol wat U2 in twee broers se lewens gespeel het, voor én na die een se dood.

  16. 14

    Ep. 14 - U2 Konferensie: "Rou, eerlike geloof..." (Deel 1/2)

    Op 6 -7 Augustus het 'n konferensie oor U2 se musiek en die teologiese invloed daarvan, by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington plaasgevind. Dit was 'n baie verrykende ervaring. DJ Muller het op dag een van dié konferensie met die organiseerders en 'n paar deelnemers gesels oor hul ervarings. Musiek in hierdie podcast: Verskeie snitte deur U2. Beskikbaar op YouTube: https://www.youtube.com/channel/UC4gPNusMDwx2Xm-YI35AkCA

  17. 13

    Ep. 13 - Diaconia hou geleenthede om te deel oor barmhartigheid

    Diaconia is ’n eenheidsbediening van die NG en VG Kerke. Hulle is tans besig met ’n reeks streeksbesoeke by gemeentes en ringe. By hierdie tipe geleenthede word daar stories gedeel oor hoe gemeentes, organisasies en ringe betrokke is by barmhartigheidswerk, en daar word ook gekyk na maniere hoe daar hande gevat kan word. Ons het in Worcester by hulle aangesluit op die 1ste Augustus en met ’n paar mense gesels oor hul ervaring: Ds. Sean Esterhuizen is ’n PSD by Diaconia, Theresa Rossouw die bestuurder van die Toevlug Sentrum in Worcester, en Basie van Wyk die hoof uitvoerende beampte van Badisa.

  18. 12

    Ep. 12 - Laaiplek: "Covid het ons goed gedoen"

    Die kommunikasiespan van Kaapkerk het die week die Kaap bietjie agter gelaat en die pad gevat langs die Weskus op, tot by Velddrif en Laaiplek. Na ‘n heerlike ontbyt jaffel by die hawe, het ons by die NG Kerk op Laaiplek gestop en die gemeente se dominee, Charl van Rensburg, ontmoet. Dit was bitter koud, so ons het in die kerkgebou in die son wat by die venster inskyn gaan sit en gesels. ’n Paar dinge in die gemeente het ons opgeval. Dinge soos die reuse bediening wat via WhatsApp daagliks plaasvind. Of iets soos die feit dat hulle elke Sondag hul eredienste met ’n FM-sender uitsaai vir die gemeenskap om die kerkgebou. Charl reken Covid het die gemeente gehelp om nuut te dink oor hoe bediening kan lyk. Ons wou bietjie meer hieroor weet.

  19. 11

    Ep. 11 - "Ignite the Flame" - Evangelisasie Konferensie

    Ons gesels met Braam Hanekom oor evangelisasie. Is ons nog genoeg besig hiermee? Hoe lyk evangelisasie in 2024? Indien jy of jou gemeente hulp nodig het met jul werk "na buite", reik gerus uit na Getuienis Aksie: https://getuienis.christians.co.za/

  20. 10

    Ep. 10 - Noah's Ark in Uganda: 'n Tuiste vir honderde kinders

    In die middel 90's word 'n klein kindjie in Uganda in 'n swartsak langs die pad opgetel deur Peter en sy vrou, Pita van Nederland. Die kindjie word toe groot in hul woonstel in Kampala. In 1999 stig hulle 'n organisasie, Noah's Ark, wat na sulke kinders omsien. John en Magda Frylinck is afgetrede besigheidsmense, wat deesdae hul roeping by Noah's Ark uitleef. Hulle vertel meer hiervan! Noah's Ark: https://int.nacmu.org/ Kyk ook hierdie video oor Bernice wat gered word uit 'n swartsak: https://www.youtube.com/watch?v=L-drCrixttA

  21. 9

    Ep. 9 - Is bloed dikker as water?

    Ons vier Sondag, 12 Mei 2024, Moedersdag. Vir baie vroue is dit ’n dag van viering, maar vir talle hou dit groot pyn en selfs rou in. Die Taakspan Gendergeregtigheid kyk in hierdie episode na kwessies wat hiermee verband hou. Ons gesels met Sarize Retief, gemeentepredikant in Aggeneys, oor haar persoonlike reis met infertiliteit. Professor Igno Siebert, ’n fertiliteitspesialis bied ’n mediese perspektief en Lou-Maré Denton van Brackenfell-gemeente kyk na hoop en bemoediging vanuit die teologie. Vroue se identiteit word so vasgemaak aan hulle rol as moeders. Hoe ontkoppel ons mawees van vrouwees? MÓÉT-LEES BRONNE: Reconceiving reproductive health: Theological and Christian ethical reflections https://tinyurl.com/Reconceiving-health Reconceiving Infertility: Biblical Perspectives on Procreation and Childlessness https://tinyurl.com/Reconceiving-Infertility E-boek: Reconceiving reproductive health — PDF (7.2 MB)

  22. 8

    Ep. 8 - Dawie Roodt: "Die kerk moet politici moreel op die regte pad hou"

    Die vorige keer toe die kerk werklik by politiek betrokke was, het dit nie goed geëindig nie. Nóú, glo sommiges, het die kerk se profetiese stem stil geword en gee die kerk op 'n afstand vir die wêreld om. Is die kerk bang, skaam of net té versigtig? Hoe lyk die rol van die kerk in Suid-Afrika vandag? Om hiermee te help, gesels ons met ekonoom Dawie Roodt, en Braam Hanekom, van die Sentrum vir Publieke Getuienis. Braam meen onder andere dat ons van armoede weet in terme van wat statistieke daaroor sê, maar ken ons die reuk van armoede? Dawie gesels via Teams vanuit Gauteng, so daar is af en toe 'n haakplek, maar die boodskap is baie duidelik wanneer Dawie aan die einde sê: “Dit is die kerk se verantwoordelikheid om die politieke leierskap moreel op die regte pad te hou”.

  23. 7

    Ep. 7 - Dinge van die lug: reënboë en beloftes

    Rudolph, Jean-Mari en hul dogtertjie Talitha woon in Rawsonville. Hy is ’n dominee, en Jean-Mari hou skool. Ons kuier saam met hulle op Worcester se vliegveld terwyl daar af en toe ‘n vliegtuig opstyg en daar gekommunikeer word op 124.8 MHz tussen mense in vliegtuie en mense op die grond. Dit is gepas, want ons praat oor ‘dinge van die lug’ – “thermals” en reënboë. Hulle deel oor die merkwaardige rol wat dit in hul lewens speel. “Thermals”, omdat dit dié dominee help om hoog bo in die lug stil te word en sy kop skoon te kry. En reënboë, omdat dit ’n belofte inhou – ‘n belofte oor hoop. ’n Belofte oor ’n aangenome dogtertjie wat op die ouderdom van vier maande al vir haar pa kon glimlag. Lees meer oor dié reënboog storie: https://kaapkerk.co.za/reenboog-teken-van-hoop-met-aanneming/ LEES:

  24. 6

    Ep. 6 - Aletia Grundling: 'n Boeremeisie met 'n missie

    Aletia Grundling is bewys daarvan dat dinamiet in klein pakkies kom. Hierdie boervrou van Simondium jaag sommer met haar motor tussen toeskouers in wat sit en toekyk hoe bendelede mekaar doodmaak. “Hier gaan geen ouer meer toekyk hoe haar kind in ‘n silwer sak weggedra word nie!” Hierdie passie vir haar medemens en die hestel van gesinne in die Drakenstein area is die dryf wat MCM (Monte Christo Miqlat), die nie-winsgewende organisasie waarvan sy die uitvoerende hoof is, aan die gang hou. Heléne Meissenheimer van Kerkbode het in die Kaapkerk ateljee met Aletia gesels oor haar bediening en die rol wat MCM in die Paarl speel. Dit volg na die verskyning van ‘n nuwe publikasie wat saamgestel is deur prof. Erwin Schwella met die titel Caribuntu. Een van die hoofstukke in die boek is gewy aan die werk en stories van MCM. In dié opname vertel Aletia hoe dit gebeur het dat bendebedrywighede ontlont is en hoe daar daadwerklik gebou word aan vredevolle en volhoubare gesinne. Sien MCM in aksie

  25. 5

    Ep. 5 - Hierdie Lazarus help sy dorp opstaan

    Lazarus Makwena dra vanoggend ‘n “hoodie” wat lees “Victoria-Wes Plek van Hoop”. Ons het langs hom op die sypaadjie gaan sit en gevra hoe dit op die platteland gaan en hoe hy en ander besig is om hoop te bring in ‘n arm en behoeftige gemeenskap. Hy vertel onder andere van die groot werk wat Genadeland op dié dorp doen.

  26. 4

    Ep. 4 - Twee kante van 'n kerkdeur

    Jenny en Cathy woon in Paarl-Oos. Hulle het besluit om die kerk na "die mense" toe te vat, en nie net te wag dat die mense kerk toe kom nie. Hulle help ons om 'n besondere dimensie van kerk-wees, prakties te sien uitspeel. Hulle vertel as te ware hoe ons kan kerk wees aan die buitekant van die kerkdeur. Maar 'n kerkdeur het mos twee kante? Aan die einde van die episode, deel ds. Leon Tait ook sy gevoel oor die binnekant van die kerkdeur en waarom dit belangrik is dat ons tog ook Sondae by mekaar kom en "na binne gerig" ook moet kerk wees.

  27. 3

    Ep. 3 - My naweek was nie genoeg nie (Fanie Kriel)

    Fanie Kriel van die Paarl gesels oor hoe die mens smag na 'n reddingsboei in 'n see van prestase en ekstase. Ons kyk na wat ware rus is, hoekom mens dit nodig het en hoe jy dit kry. Hy verduidelik ook wat instase is en wat die effek daarvan sou wees indien ons dit kon regkry om dit meer deel van ons lewens te maak.

  28. 2

    Ep. 2 - Trane tot hoop (Boekgesprek met Cas Wepener)

    “Om ’n erediens in Lydenstyd te hou wat drup van lament is hoop in aksie”. Só sê prof Cas Wepener, die Stellenbosse teoloog en skrywer. Heléne Meissenheimer, joernalis by Kerkbode, het met hom gesels oor ’n nuwe boek wat hy saam met sy kollega, dr Dawid Mouton van die VGK, saamgestel het. Met ’n titel soos Lamenting for change en die subtitel: Worship and preaching for social impact, Resources for a season of lament in service of hope mag dit klink of die boek ’n swaarmoedige ervaring bied, maar Wepener verskil. Hy omskryf dit as ’n bron wat geloofsgemeenskappe kan help om tydens Lydenstyd op Bybelse wyse te kla juis om ons te help met die blues waarin ons is. Die boek bevat 14 preekvoorstelle deur 13 teoloë van die Fakulteit Teologie by die Universiteit Stellenbosch. Dit kos R240 en word uitgegee deur Bybel-Media. Kerkbode is 'n Bybel-Media-Publikasie. Koop

  29. 1

    Ep. 1 - 10 Miljoen pare skoene vir kinders (Samaritan's Feet)

    Manny en Tracie Ohonme is die stigters van Samaritan's Feet. Hulle vertel oor die hartroerende wortels van hul bediening en hoe hul in 20 jaar al meer as 10 miljoen pare skoene aan kinders gegee het. Hermien Louw deel hoe jy en jou gemeente betrokke kan raak. Vir meer inligting, of om betrokke te raak: Hermien Louw +27 (0) 84 549 4182 [email protected]

Type above to search every episode's transcript for a word or phrase. Matches are scoped to this podcast.

Searching…

No matches for "" in this podcast's transcripts.

Showing of matches

No topics indexed yet for this podcast.

Loading reviews...

ABOUT THIS SHOW

Hierdie boeiende podcast bring 'n reeks inspirerende stories van hoop. Elke episode bied aangrypende getuienisse, stories en opinies wat jou sal aanmoedig om te volhard en vas te hou aan die hoop wat daar in Christus is.

HOSTED BY

Klank Kompas

URL copied to clipboard!