-
1000
RSG Landbou 14 Mei 2026
As jy kan sing en werksaam is in die kern- en steenvrugte-, wyn-, tafeldruif- en sitrusbedrywe, kan jy nou inskryf vir die jaarlikse Agri’s Got Talent-kompetisie. Dit is meer as net ‘n sangkompetisie – dit is ‘n projek wat ook die individu se selfvertroue en selfbeeld verbeter. Die Lewendehawe Registrerende Federasie se Veeskool wat vanjaar weer in Oktober gehou word, fokus op die potensiaal van die beesvleiswaardeketting. Izaan du Plooy praat oor die onderwerpe wat bespreek word en vertel ook van Catriona Millen, ‘n veegenetikus van Australië, wat as spreker sal optree. Johan van den Berg is terug met die weervooruitsigte, en Chris Derksen met nuus oor die week se vleispryse.
-
999
RSG Landbou 13 Mei 2026
Landbouers in die Noord-Kaap is verheug oor die reën wat dié provinsie ontvang het, maar lusernprodusente voel nie noodwendig dieselfde daaroor nie. En, hoe lyk die paaie? As jy in landbou-opleiding belangstel, moenie ons gesprek met Shaun Welmans van Agri Skills Transfer misloop nie. Hy gesels oor hul Junie-inname, die plaas in Cullinan waar praktiese opleiding gedoen word en die aanlynstudies wat hulle aanbied.
-
998
RSG Landbou 12 Mei 2026
Die Suid-Afrikaanse wynbedryf verwelkom China se besluit om ’n tydelike nultarief-vergunning vir kwalifiserende wyne uit Suid-Afrika te maak. Het jy geweet dat hierdie tarief tot nou toe teen ‘n stewige 14 persent gehef was? Christo Conradie van South Africa Wine verduidelik watter voordele die nultarief vir die wynbedryf en produsente op die plaas inhou. Die reëling geld net vir twee jaar, en ons hoor ook wat hy daaroor te sê het. Die 2025 Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur, Willie Storm van Olifantshoek in die Noord-Kaap, is uitgenooi om sy kundigheid met boere in Namibië te deel en hy vertel wat dié besoek behels. Dan is Heinrich Victor terug met die nuutste wolveilingsnuus.
-
997
RSG Landbou 11 Mei 2026
Het jy geweet Olivedale het in 2002 die eerste organiese wyn in Suid-Afrika geproduseer? Luister na die storie oor die ontstaan van dié plaas by Buffeljagsrivier naby Swellendam. Ons gesels met die mede-eienaar, Carl van Wijk, en wynmaker, Riaan Liebenberg.
-
996
RSG Landbou 9 Mei 2026
Die Straat van Hormoes is 'n smal seestraat wat die Persiese Golf met die Golf van Oman verbind. Dit is 55 km wyd. Gegewens oor die sluiting daarvan dra by tot ‘n toename in brandstofkoste. Louw Pienaar, ‘n senior landbou-ekonoom by die Buro vir Voedsel en Landboubeleid, praat oor die geopolitiek, wat Suid-Afrikaanse produsente vandag beïnvloed.
-
995
RSG Landbou 8 Mei 2026
Prof. Willem Landman van die Universiteit van Pretoria werp lig oor die voorspelling van ‘n komende El Niño-seisoen, ook in terme van somergewasse. Pieter Gouws, ’n professor in voedselveiligheid aan die Universiteit Stellenbosch se department van voedselwetenskap, vertel van nuwe loopbaangeleenthede in dié veld. Angus McIntosh van die plaas, Spier buite Stellenbosch in die Wes-Kaap, het ‘n video geneem van sy seun Hamish wat vir die trop Loumousin/Red Angus saksofoon speel. Die uiteinde van die eksperiment was verhoogde produksie by melkkoeie.
-
994
RSG Landbou 7 Mei 2026
Die onthoring van kalwers is ‘n algemene bestuurspraktyk in die vleisbeesbedryf. Waarom word dit gedoen, en is dit werklik nodig? Dr. Rulien Erasmus van die Landbounavorsingsraad beantwoord ‘n paar vrae hieroor. Voorvalle van veediefstal neem toe in die Potchefstroom-distrik, en beeste se hakskene word soms deur veediewe afgekap. Dit is nie 'n onbekende diefstaltegniek nie, maar dit bly ‘n grusame gebruik wat boere moedeloos maak. Murray Deacon van die plaaslike boerevereniging sê buiten die toename van veediefstalvoorvalle, is daar ook suksesverhale ten opsigte van misdaad in die gebied.
-
993
RSG Landbou 6 Mei 2026
Het jy geweet dat katbos, wat groot probleme in die landbou veroorsaak, verwant is aan die aspersie? Alhoewel dit ‘n inheemse spesie is, is dit problematies, en veral opvallend in die Noord-Vrystaat. Onkruidwetenskaplike, prof Charlie Reinhardt, praat oor die oormatige verdigting van dié struik, en gee raad oor die beheer daarvan. Volgens dr. Pieter Theron, ‘n kleinveenavorser van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, kan stysels wat makliker verteer, kleinvee help om hittestres te hanteer.
-
992
RSG Landbou 5 Mei 2026
Vir ‘n beesboer om winsgewend te wees, moet hy homself, sy veld, beeste en besigheid verstaan. Ons het by die afgelope jaarkongres van die Rooivleisprodusente-organisasie Noordwes met Ockie Olivier hieroor gesels. Rooivleisbedryfsdienste se naspeurbaarheidsplatform het ‘n paar nuwe funksies bygekry, wat dit vir die produsent meer prakties en bruikbaar maak. Dr. Phillip Oosthuizen verduidelik wat dit behels. Het jy geweet dat een van die belangrikste faktore wat ‘n invloed op die groei en gesondheid van kalwers het, stres is, veral wanneer hulle gespeen word. Ons het by ‘n boeredag op Harrismith by veekundige Ashley Grimsell uitgevind hoe om dit te bestuur.
-
991
RSG Landbou 4 Mei 2026
Het jy geweet dat wanneer verbruikers onder druk is as gevolg van hoër voedselpryse, daar nié ‘n daling in die vraag na voedsel is nie, maar eerder ‘n verandering in aankoopgedrag? Dít kan vir die landbou nuwe geleenthede skep. Deidré Viljoen van Rocklyn Boerdery in die Steynsburg-distrik wil ‘n verskil maak deur haar ervarings as plaasvrou en ma met ander te deel.
-
990
RSG Landbou 2 Mei 2026
Dr. Willem Botha, die uitgetrede hoof en uitvoerende redakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, praat oor idiome met ‘n landbouherkoms, soos IN DIE WIELE GERY WORD en WYSHEID IN DIE KAN. Ons leer ook meer van die Afrikaanse digter en skrywer. Boerneef. Daneel Rossouw, die hoof van verkope in landbou by Nedbank, vertel van opwindende nuwe loopbaangeleenthede in die landbou.
-
989
RSG Landbou 1 Mei 2026
Professor Stephanie Midgley, ‘n spesialiswetenskaplike in klimaatsverandering by die departement van landbou in die Wes-Kaap, was onlangs by ‘n konferensie oor besproeiing in Australië. Professor Johann Strauss is sinoniem met bewaringslandbou in Suid-Afrika. Hy werk op uiteenlopende stelselproewe, waar verskillende gewasrotasies getoets word. Wêreld Sauvignon Blanc-dag word op 1 Mei gevier. Elunda Basson, die voorsitter van Sauvignon Blanc SA en keldermeester by Steenberg Vineyards, verduidelik waarom dié dag ‘n belangrike een is op die kalender vir sowel produsent as verbruiker.
-
988
RSG Landbou 30 April 2026
Het jy geweet die DNS van ‘n wingerdstok kan gewysig word? Clara Holm van Stellenbosch Universiteit vertel van ‘n studie waarin ‘n wingerdstok-geen “afgeskakel” is. Dit hou verband met hoe plante op siektes reageer. Ons hoor by Zoetis van ‘n tieklysie wat nodig is om ‘n voerkraal te begin. Ons kry die weeklikse vleispryse by Chris Derksen, en die jongste weerinligting by Johan van den Berg.
-
987
RSG Landbou 29 April 2026
Slaggate op paaie is vir baie van ons niks nuuts nie, en met die nat weer raak dit net erger. Naudé Pienaar van Agri Noordwes vertel wat gedoen word om dié krisis in Noordwes aan te spreek. Ons praat met dr. Peter Evans, ’n veearts van die Rooivleisbedryfdienste oor die ministeriële taakspan vir staatsbeheerde siektes en oor bek-en-klouseer-entstof en -aanmelding.
-
986
RSG Landbou 28 April 2026
Die Graanhanteringsorganisasie van Suid-Afrika fokus deurlopend op ’n doeltreffende voorsieningsketting om verbruikers te beskerm. Johan van Rensburg gesels oor hulle 41ste simposium wat in Mosselbaai gehou is. Dr. Colin Ohloff van Melk SA vertel van pogings om die melkbedryf wêreldwyd meer volhoubaar te maak. Het jy geweet ’n veiling kan op WhatsApp aangebied word? Ons hoor meer oor Qualitrio Bonsmaras se unieke produksieveiling wat eersdaags plaasvind.
-
985
RSG Landbou 27 April 2026
Weet jy watter belangrike rol Suid-Afrikaanse sybokhaarprodusente in die Europese modebedryf speel? Jonker Venter van OVK vertel van ‘n bokhaarbaal wat onlangs ‘n seisoen- en wêreldrekordprys op ‘n openbare plaaslike veiling behaal het, en nou bestem is vir Italië. Bek-en-klouseer-uitbrekings en die verspreiding van enstowwe bly ‘n kopseer vir produsente in Noordwes.
-
984
RSG Landbou 25 April 2026
Ons kyk na voedselveiligheid in ‘n tyd van verhoogde brandstofpryse en stygende lewenskoste. Pieter Gouws, ‘n professor in voedselveiligheid aan die Universiteit Stellenbosch se Department Voedselwetenskap en direkteur van die Sentrum vir Voedselveiligheid, praat ook sake wat verband hou met vervaldatums op kosverpakking.
-
983
RSG Landbou 24 April 2026
Veekundige van Kaapstad, dr. Chris de Brouwer, praat oor die onderhoudsbehoefte van vleisbeesrasse, en sy liefde vir veral Nguni’s. Die saadhandelsmerk, Croplan®, wat wêreldwyd met hoëprestasie-genetika en uitgebreide proefdata geassosieer word, is eersdaags plaaslik beskikbaar. Die eerste kultivar in die reeks is ’n witmielie wat oor die afgelope paar jaar op proefpersele en produsente se plase geëvalueer is, en binnekort by die 2026 NAMPO-oesdag vertoon sal word.
-
982
RSG Landbou 23 April 2026
Het jy geweet daar is protokolle in plek om te verseker dat die groentesaad wat produsente bereik, veilig en siektevry is? David Malan van Klein Karoo Saad praat oor die produksie van groentesaad in Suid-Afrika vir teelmaatskappye regoor die wêreld. Hy vertel ook van die fitosanitêre maatreëls waaraan voldoen moet word met die verspreiding van die saad. Chris Derksen het die jongste vleispryse wat in die Noord-Vrystaat behaal is, en Johan van den Berg is weer op sy pos met die jongste weerinligting.
-
981
RSG Landbou 22 April 2026
Het jy geweet die aromatiese struik, boegoe, met sy fyn blaartjies en kenmerkende geur, hou ‘n skatkis vol voordele in? Ons praat met dr. Gerhard Niemand van Puris Natural Aroma Chemicals in die Paarl oor die eienskappe wat dié plant so uniek maak. Wat is die toekoms van gewassaad? Prof. Driekie Fourie van Noordwes-Universteit verduidelik hoe nuwe generasie saadbehandelings help om gewassaad betroubaar en veilig te hou.
-
980
RSG Landbou 21 April 2026
Het jy al rondlopervee, veral beeste, in dorpe en selfs stedelike gebiede gesien wei? Grondregkenner Hans-Jurie Moolman verduidelik hoekom hierdie diere eintlik geskut moet word, totdat hulle eienaars opgespoor word. Hy gesels ook oor die wetlike vereistes vir funksionerende veeskutte en skutmeesters in dorpe en stede. Shaun Welmans van Agri SkillsTransfer praat oor loopbaanmoontlikhede en kwalifikasies in die landbou.
-
979
RSG Landbou 20 April 2026
Het jy geweet dat sowat 70% tot 75% van die land se rooivleis afkomstig is van speenkalwers wat in voerkrale afgerond word? Dr. WA Lombard van die Departement van Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat en redakteur van Veeplaas, praat oor die rol van speenkalwers in die rooivleiswaardeketting, en hoe speenkalfpryse bepaal word. Slakke is nie net ‘n probleem in jou tuin nie. In die Suid-Kaap veroorsaak hierdie klein peste skade vir kanolaprodusente. Piet Lombard van die Wes-Kaapse Departement van Landbou brei hieroor uit.
-
978
RSG Landbou 18 April 2026
“O, die donkie is ‘n wonderlike ding,” sing Chris Blignaut in sy bekende liedjie van 1969. In wese is die donkie ook ‘n dier met ‘n wil van sy eie. Shannon Robertson is assistentlewendehawe-bestuurder by die Boschendal-wynlandgoed. Sy vertel van die suksesvolle reddingspoging om nie net die donkies, maar al die ander diere op die plaas, na veiligheid te bring tydens die brande in Franschhoek, wat in Januarie vanjaar verwoesting gesaai het.
-
977
RSG Landbou 17 April 2026
Senior multimediajoernalis by Landbouweekblad en landbou.com, Alani Janeke, verduidelik waarom die oprigting van weerstasies op plase in Suider-Afrika belangrik is. Nie net word mikroklimate ontleed nie, maar boere span dit ook in vir veiligheid. Slakke veroorsaak op die oomblik ernstige probleme vir boere. Navoringstegnikus by die Departement van Landbou in die Wes-Kaap, Piet Lombard, verduidelik jy met sukses van sowel die naakslak as die dopslak ontslae kan raak.
-
976
RSG Landbou 16 April 2026
Agri Noord-Kaap het met ‘n hulplessenaar ontwikkel met die doel om ‘n databasis op te bou. Eben Anthonissen, voorsitter van omgewingsake by dié organisasie, gee meer besonderhede. André Bloem, ‘n arbeidspesialis, vertel van ‘n belangrike onlangse hofuitspraak oor billike en regverdige diensbeëindiging. Ons hoor ook van ‘n internasionale onkruiddoderweerstandspesialis se besoek aan Suid-Afrika. Chris Derksen staan reg met die jongste vleispryse wat by veilings in die Noord-Vrystaat behaal is, en Johan van den Berg is op sy pos met die jongste weerinligting.
-
975
RSG Landbou 15 April 2026
Het jy geweet Uruguay is omtrent so groot soos die Vrystaat en dat hulle nasionale Brangus-kudde, net soos Suid-Afrika se totale beeskudde, uit tussen 13 en 14 miljoen diere bestaan? Pieter Swart, raadslid vir spesiale projekte by die Suid-Afrikaanse Brangus-beestelersgenootskap, vertel meer oor die Brangus Global Exchange-projek en die onlangse besoek deur ‘n afvaardiging van Suid-Amerikaanse Brangus-telers aan Suid-Afrika. Ons hoor ook by Hendrik Jordaan, ‘n Suid-Afrikaner wat in Argentinië bly en as tolk vir die groep opgetree het, oor hulle indrukke van plaaslike Brangus-teling.
-
974
RSG Landbou 14 April 2026
Die brandseisoen kruip nader, en boere moet voorbereidings tref. Eric Stoch, voorsitter van die Noordwes Sambreelbrandbestrydingsvereniging, vertel meer oor hulle voorbereidings, en die bestryding van brande wat regdeur die jaar in dié provinsie voorkom. Jan-Hendrik Venter, direkteur van plantgesondheid by die Nasionale Departement van Landbou, verduidelik waarom fitosanitêre maatreëls vir die verhandeling van gewassaad so ‘n ingewikkelde proses is. Heinrich Victor staan reg met die jongste wolmarkverslag.
-
973
RSG Landbou 13 April 2026
Hou jy tred met die weeklikse nasionale gemiddelde karkasprysdata van die Rooivleisprodusente-organisasie? Dr. Frikkie Maré, bestuurshoof van die RPO, beantwoord vrae oor hierdie pryse, en hoe dit verwerk word. Muggieplae is ‘n groot kopseer vir boere langs die Oranjerivier. Agri Noord-Kaap se Janine Byleveld deel navorsing hieroor, en vertel wat boere in die reënseisoen kan verwag.
-
972
RSG Landbou 11 April 2026
Ons vind meer uit van die navorsing wat tot dusver gedoen is alkoholvrye wyn. Soos die internasionale vraag daarna verhoog, is Suid-Afrikaanse landboutegnici op die voorpunt van nuwe produkontwikkeling. ‘n Kunsmatige intelligense-toepassing is ook onlangs bekendgestel om reuk- en smaakbeskrywings soos ‘perske’ of ‘vanielje’ netjies te koppel aan natuurlike plaaslike terme is ses van ons amptelike tale. ‘n Dosent in wingerd- en wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch, dr. Jeanne Brand, verduidelik.
-
971
RSG Landbou 10 April 2026
Suid-Afrikaners drink jaarliks 3,5 miljard koppies rooibostee. Dié inheemse tee het onlangs ‘n verskyning gemaak in ‘n bekende reeks op Apple TV+. ‘n Geleentheid vir vroue in die landbou-waardeketting vind eersdaags in die Suid-Kaap plaas. Die Sy Wat Bly-samekoms word georganiseer deur twee vroue landbou-entrepreneurs.
-
970
RSG Landbou 9 April 2026
Het jy geweet daar is ‘n organisasie wat hom spesifiek toespits op die bewaring van Suid-Afrika se riviere? Prof. Jan Myburgh van die Universiteit Stellenbosch vertel van die Red ons Riviere-projek. Chris Derksen staan gereede met die jongste vleispryse wat by veilings in die Noord-Vrystaat behaal is. Johan van den Berg is ook op sy pos met die jongste weerinligting.
-
969
RSG Landbou 8 April 2026
Skoliere met ‘n passie vir landbou het nou kans om hulle vernuf te wys. TLU SA het onlangs hulle heel eerste Jeugboer van die Jaar-kompetisie bekendgestel. Die organisasie se hoofbestuurder, Bennie van Zyl, vertel meer hiervan. Dan kry ons ‘n kykie in die wêreld van topgenetika met Schalk van der Merwe van LHB Bonsmaras. Ons kyk ook na die belangrike rol wat skaapboerdery in kommunale gebiede in Suid-Afrika se wolbedryf speel. Willem Goosen van die Nasionale Wolkwekersvereniging gesels hieroor.
-
968
RSG Landbou 7 April 2026
Niks klop die geur van lekker gemmerstukke nie. Het jy geweet dat hierdie klein knol hope gesondheidsvoordele het? Joachim Prinsloo, ‘n gemmerboer van Kiepersol in Mpumalanga, vertel wat in die gemmerbedryf aangaan. Die Nasionale Wolkwekersvereniging vier vanjaar sy 100ste bestaansjaar. Dan Kriek, die organisasie se hoofbestuurder, vertel van hulle geskiedenis en toekomsplanne. Heinrich Victor het die jongste wolmarkverslag.
-
967
RSG Landbou 6 April 2026
Ons praat met Izaan du Plooy van die Lewendehawe Registrerende Federasie se jaarlikse veeskool, en vind meer uit oor die Federasie van Saadverhandelingsverenigings se kongres in Kaapstad.
-
966
RSG Landbou 4 April 2026
Ons vier boere-humor. Ons stel ondersoek in oor idiome met ’n landbouherkoms - van “‘n gegewe perd in die bek bek kyk” tot “varkies op hok”, saam met dr. Willem Botha, uitgetrede hoof en uitvoerende redakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.
-
965
RSG Landbou 3 April 2026
Die Wes-Kaapse Minister van Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, dr. Ivan Meyer, sluit by ons aan met ‘n belangrike boodskap oor bek-en-klouseer en die vervoer van diere oor die Paasnaweek.
-
964
RSG Landbou 2 April 2026
Dink aan ‘n gesonde, smaaklike aartappel – gesondheid uit die grond uit! Dis wat Aartappels SA se navorsingwerk verseker. Annemarie van der Merwe is dié organisasie se nuwe bestuurder van navorsing en innovasie. Sy praat ons oor nuwe planne vir hierdie bedryf. Suid-Afrika se appel- en peerbedryf betree 'n opwindende nuwe hoofstuk, gedryf deur innovasie, samewerking en nuwe generasie produsente. Calla du Toit van Tru-Cape en Hortgro vertel meer. Chris Derksen het die jongste vleispryse, en Johan van den Berg het weernuus.
-
963
RSG Landbou 1 April 2026
Kunsmis is een van die grootste veranderlike insetkostes vir graanprodusente. Dit maak 30% tot 40% van totale produksiekoste uit. Graan SA monitor prystendense en gehalte. Die minister van landbou het onlangs die nuwe lede van die Nasionale Landboubemarkingsraad bekendgemaak. Die voorsitter, prof. André Jooste, verduidelik wat die funksie van dié instansie is. Ons praat met die wêreld se grootste makadamiaprodusent.
-
962
RSG Landbou 31 Maart 2026
Ons hoor hoe Hoërskool Erasmus op Bronkhorstspruit toekomstige landbouers oplei. Rassies Landbou het ‘n paar jaar gelede met net 15 leerders en een onderwyser begin. Vandag het hulle op meer as 200 leerders en sewe onderwysers. Heinrich Victor is terug met die jongste wolveilingnuus. Ons vertel jou van ‘n watersuiweringsprojek in die Hartenbos-omgewing. Water vanaf Papkuil en Fluitjiesriet word gefiltreer, waarna die geoeste biomassa verwerk en as kompos aangewend word.
-
961
RSG Landbou 30 Maart 2026
Is jy as plaaseienaar bewus van die feit dat seisoenale werkers vroegtydig in kennis gestel moet word indien hulle diens vir die een of ander rede nie benodig word nie? Dit is een van ‘n aantal wysigings in arbeidswetgewing wat op die landbou van toepassing is. Arbeidspesialis André Bloem praat hieroor en ander kwessies soos vrywaring van die minimumloon en ouerskapverlof. Wat is die eienskappe van ‘n klimaatslim veeboer? Dr. Louis du Pisani beantwoord hierdie vraag.
-
960
RSG Landbou 28 Maart 2026
Daneel Rossouw, hoof van verkope in landbou by Nedbank, praat oor die aanwending van skuld, en hoe om groei te finansier. Hy praat ook oor tariefverhogings en die ontwrigting van wêreldmarkte.
-
959
RSG Landbou 27 Maart 2026
Professor Johann Strauss van die departement van landbou in die Wes-Kaap werk op uiteenlopende stelselproewe waar verskillende gewasrotasies getoets word. Hy praat oor die inspan van biostimulante en navorsing wat in dié verband gedoen word.
-
958
RSG Landbou 26 Maart 2026
Volgens die voorsitter van Bonsmara SA, Nelius Ferreira, het bek-en-klouseer die bedryf ‘n goeie les geleer, maar hy is optimisties oor die pad vorentoe. Christoff Lourens van die Overberg Jongooiklub praat oor die ontstaan en doel van dié klub. Vrystaatse boere het verlede week in Bloemfontein byeengekom vir ‘n landbou-indaba wat deur Vrystaat Landbou gefasiliteer is. Tydens die byeenkoms was dit duidelik dat daar heelwat verwarring is oor die soort oorplaatjies wat vir beeste gebruik mag word. ‘n Veearts in die Oos-Vrystaat, dr. Paul Reynolds, gee duidelikheid. Johan van den Berg het die jongste weervooruitsigte.
-
957
RSG Landbou 25 Maart 2026
Waarom word herlewingslandbou en volhoubare praktyke toenemend ‘n besigheidsvereiste vir produsente? Zhann Meyer van Nedbank verduidelik hoe dié praktyke landbou-uitvoere raak. Aartappels SA vertel wat in Februarie met aartappelpryse en markte gebeur het. Moet ook nie ons maandelikse internasionale landbounuus misloop nie.
-
956
RSG Landbou 24 Maart 2026
Koringproduksie, veral in die Wes-Kaap, is onder geweldige druk, en produsente trek swaar. Ons hoor wat José de Kock hieroor gesê het by die wintergraan-werkgroepsessie by Graan SA se kongres. Heinrich Victor vertel wat by die wolveilings gebeur het. Boere in die Noord-Kaap is bekommerd oor hidrobreking in die Karoo, omdat dit watervlakke erg sal beïnvloed. Die Vaalputs kernkrag-stortingsterrein naby Springbok is ook ‘n saak van kommer.
-
955
RSG Landbou 23 Maart 2026
Wildbedryf SA vier vanjaar hulle 20e bestaansjaar. Dit is ‘n organisasie wat onder meer volhoubare grondgebruik en etiese wildboerdery bevorder. RSG Landbou het die vieringe bygewoon, en daar met hulle voorsitter, Colin Engelbrecht, gesels.TLU SA se jongboere het onlangs naby Pretoria vir hulle jaarlikse konferensie bymekaargekom. Ons hoor wat ‘n paar van hierdie jongboere te sê gehad het. Die werkgroepsessies is altyd 'n hoogtepunt tydens Graan SA se jaarkongres. In die mieliewerkgroep was dit duidelik dat produsente se somme ten opsigte van mielieproduksie nie klop nie, en die vraag is of minder aanplantings dalk oorweeg moet word.
-
954
RSG Landbou 21 Maart 2026
Ons ontmoet Livingstone Stanley. Hy is ‘n geliefde landbouleier, en glo in generasionele oordrag van kennis. Hy is ook hoof by die Breerivier Bottelerings koöperasie. Hy verduidelik waarom landbou in Suid-Afrika ‘n blink toekoms het.
-
953
RSG Landbou 20 Maart 2026
Die winsgewende verbouing van koring kom onder die soeklig. Ons bespreek die funksie van korter rotasies, met ‘n verduideliking waarom produsente liefs nie canola op canola moet plant nie. Kunsmis in korter rotasiestelsels, asook die plantdatum en blomdatum van canola, is iets waarvan navoringstegnikus Piet Lombard heelwat weet.
-
952
RSG Landbou 19 Maart 2026
Die Bloemskou is bekend vir hulle veeprogram, maar hulle was vanjaar genoodsaak om ander planne te maak. Volgens Elmarie Prinsloo staan die landbouprogram egter steeds nie terug nie. Het jy geweet die Willistonskou se melkbokskou is, sovêr bekend, die enigste melkbokskou in die land? Ons gesels met die wenner van vanjaar se skou, Philip van Schalkwyk. Hy vertel onder meer dat melkbokke vir skaap- en bokboere ’n aanwins is wanneer meerlinge op die plaas grootgemaak moet word. Johan van den Berg is op sy pos met die landbouweervooruitsigte.
-
951
RSG Landbou 18 Maart 2026
Die veebedryf word dikwels uitgewys as ’n groot sondaar wat klimaatsverandering betref. Navorsing deur prof. James Blignault van die Universiteit Stellenbosch wys egter dat die modelle wat die veebedryf se koolstofvoetspoor en bydrae tot klimaatsverandering bepaal, ernstige gebreke het. As jy landbou-opleiding oorweeg, is dit belangrik om kennis te neem van veranderinge in die Seta-omgewing. Shaun Welmans van Agri Skills Transfer verduidelik wat die jongste wysigings behels. Die media is onlangs na die Kaapstad-hawe genooi om te sien hoe die private sektor en Transnet hande gevat het om bykomende kraghulpbronne vir uitvoere te bewerkstellig. Theo Boshoff van Agbiz het daar met ons gesels.
No matches for "" in this podcast's transcripts.
No topics indexed yet for this podcast.
Loading reviews...
Loading similar podcasts...