PODCAST · health
Geestesgesondheid
by RSG
Christelle Webb-Joubert gesels met verskeie kenners oor relevante aspekte van geestesgesondheid.
-
713
Geestesgesondheid 12 Mei 2026
Johan van Lill praat met Jan Niemand, ‘n lewensafrigter, oor hoe gewone mense onsekerheid, vrees en nuuskierigheid oor kunsmatige intelligensie kan bestuur. Ons hoor al hoe meer mense sê: “KI kom vir jou werk!” Die gesprek fokus op wat hierdie verandering prakties en emosioneel beteken, hoe ons KI verantwoordelik kan begin gebruik, en hoe ons menslik kan bly dink in ’n tyd van groot tegnologiese verandering.
-
712
Geestesgesondheid 5 Mei 2026
Johan van Lill praat met Madre Fraenkel, ‘n arbeidsterapeut en kenner van demensie, oor die brose kant van ouer word. Die gesprek fokus op die emosionele, praktiese en sosiale uitdagings wat dikwels saam met ouer word kom, veral wanneer mense begin wonder oor hulle gesondheid, versorging, veiligheid, geldsake en ondersteuningsnetwerk.
-
711
Geestesgesondheid 28 April 2026
Johan van Lill praat met dr. Elzette Fritz, ‘n opvoedkundige sielkundige, oor hoe volwassenes se goeie bedoelings nie altyd aan kinders se ontwikkelingsbehoeftes voldoen nie. Die gesprek fokus op hoe volwassenes kinders dikwels met liefde en goeie bedoelings probeer help, maar tog soms optree op maniere wat nie by ’n kind se werklike ontwikkelingsfase en emosionele behoeftes pas nie.
-
710
Geestesgesondheid 21 April 2026
Johan van Lill praat met Hazel Hatting oor ’n werklikheid waarmee baie mense elke dag saamleef: Wat gebeur as jy weet jy is in die verkeerde beroep, maar jy het eenvoudig nie die vryheid om iets anders te kies nie? Die gesprek fokus op die emosionele en sielkundige impak daarvan om vasgevang te voel in werk wat jou nie pas nie, terwyl finansiële druk, beperkte geleenthede en verantwoordelikhede jou dwing om aan te hou.
-
709
Geestesgesondheid 14 April 2026
Johan van Lill praat met professor Jannie le Roux oor die verskil tussen florerende en verwoestende huwelike. Die gesprek fokus op die patrone wat oor tyd in verhoudings ontwikkel – die klein oomblikke wat bou of breek, die manier waarop paartjies met konflik werk, en hoe emosionele veiligheid en konneksie ’n verhouding dra, of stadig laat verbrokkel.
-
708
Geestesgesondheid 7 April 2026
Johan van Lill praat met Rouxlene Badenhorst, ‘n integratiewe gesondheidspraktisyn en psigoterapeut, oor ’n onderwerp waaroor daar selde openlik gepraat word – Wat gebeur ná ’n selfdoodpoging waar die persoon oorleef het? Dit is die stil deel van die storie: jy leef nog, maar alles het verander. Die vrae, die skaamte, die verwarring en die realiteit om weer mense in die oë te kyk, word deel van elke dag.
-
707
Geestesgesondheid 31 Maart 2026
Johan van Lill praat met Lizette Volkwyn, ‘n meester-lewensafrigter, internasionale spreker en spesialis in menslike gedrag en emosionele intelligensie, oor verwerping. Dis ’n ervaring wat byna elke mens raak, maar wat dikwels onderskat word in terme van die impak wat dit op ons emosionele welstand het. Of dit nou in verhoudings, die werkplek, vriendskappe of binne families gebeur, verwerping kan diep sny en lank by ’n mens bly.
-
706
Geestesgesondheid 24 Maart 2026
Johan van Lill praat met dr. Elzette Fritz, ‘n opvoedkundige sielkundige, oor tienerselfdood en die komplekse emosionele wêreld waarin baie jongmense hulleself bevind. Die gesprek word gevoer teen die agtergrond van onlangse gebeure in die nuus en die groeiende besef dat ons nie genoeg oor hierdie onderwerp kan praat nie.
-
705
Geestesgesondheid 17 Maart 2026
Johan van Lill praat met prestasie-afrigter en konsultant, Gielie Hoffmann, oor die noue verband tussen geestesgesondheid, prestasie en menslike groei. Hoffmann werk met organisasies, sportspanne en skole, waar hy mense help om gesonder denkwyses te ontwikkel, beter met druk te werk en volhoubare gedragsverandering te bou. Hy praat eerlik oor sy eie pad met geestesgesondheid en die lesse wat hy deur jare se werk met mense in hoëdruk-omgewings geleer het. Die gesprek verken hoe die menslike verstand onder druk funksioneer, waarom emosionele welstand so ’n belangrike rol in prestasie speel, en hoe mense kan leer om veerkragtig te bly wanneer dinge moeilik raak. Dit is ’n diep menslike gesprek oor kwesbaarheid, selfbewustheid en die krag van betekenisvolle gesprekke.
-
704
Geestesgesondheid 10 Maart 2026
Johan van Lill praat met lewensafrigters Jan Niemand en Hazel Hattingh oor ’n oorgang wat baie mense onderskat - aftrede en die emosionele aanpassing wat daarmee saamgaan. Die gesprek fokus op die skielike verandering wat mense ervaar wanneer ’n vaste inkomste verdwyn, wanneer identiteit wat jare lank met werk verbind was verander, en wanneer groot lewensveranderings emosioneel oorweldigend raak.
-
703
Geestesgesondheid 3 Maart 2026
Johan van Lill praat met opvoedkundige sielkundige dr. Elzette Fritz oor wanneer kinders se emosies oorspoel, en wat werklik gebeur wanneer ’n kind ontplof of uitreageer. Die gesprek fokus op emosionele disregulering — hoe ’n oorlaaide senuweestelsel gedrag kan dryf, hoekom kinders soms nie kan dink of luister tydens ’n uitbarsting nie, en hoe volwassenes kan onderskei tussen stout gedrag en emosionele oorweldiging.
-
702
Geestesgesondheid 24 Februarie 2026
Johan van Lill praat met lewensafrigter Jan Niemand oor wanneer liggaam en emosies saam praat – die diep verband tussen welwees, gevoelens en fisiese gesondheid. Die gesprek fokus op hoe emosies soos stres, angs en hartseer deur die liggaam manifesteer, hoe mense dikwels waarskuwingstekens ignoreer en waarom ware welwees altyd ’n geïntegreerde balans tussen liggaam en emosies vereis.
-
701
Geestesgesondheid 17 Februarie 2026
Johan van Lill praat met Ian von Memerty oor selfverlossing, menswaardigheid, veroudering en geestesgesondheid. Die gesprek fokus op hoe mense sin probeer maak van verlies aan onafhanklikheid, finansiële onsekerheid, veranderende identiteit en die emosionele impak van ouerword. Daar word met empatie en diepte gekyk na die idee dat sommige mense self wil kies wanneer hulle lewe moet eindig, nie uit wanhoop nie, maar uit ’n behoefte aan waardigheid en beheer.
-
700
Geestesgesondheid 10 Februarie 2026
Johan van Lill praat verder met Rouxlene Badenhorst, ‘n terapeut en kliniese maatskaplike werker, oor trauma as ’n liggaam- en senuweestelselproses. Die gesprek fokus op hoe trauma in die liggaam vassteek, hoe dit gedrag, verhoudings en selfbeeld beïnvloed, en hoe genesing moontlik word deur veiligheid en regulering. Die program bring luisteraars se ervarings en vrae na die voorgrond, en verken temas soos snellers, stil trauma, kindertrauma, ouers se invloed, angs, depressie en die pad na herstel binne gesinne en verhoudings.
-
699
Geestesgesondheid 3 Februarie 2026
Johan van praat met Rouxlene Badenhorst, ‘n terapeut en kliniese maatskaplike werker, oor trauma en die diepgaande invloed daarvan op die liggaam, emosies en selfbeeld. Sy verduidelik hoe trauma nie net gaan oor wat met ’n mens gebeur het nie, maar oor wat binne jou gebeur het as gevolg daarvan, en hoe die senuweestelsel oor tyd veiligheid, regulering en balans kan verloor.
-
698
Geestesgesondheid 27 Januarie 2026
Johan van Lill praat met Lizette Volkwyn, ‘n meester-lewensafrigter en skrywer, oor wat met ’n mens se identiteit gebeur ná ’n groot krisis. Wanneer mense sê: “Ek voel nie meer soos myself nie,” wat lê agter daardie woorde? Vir baie raak verlies, trauma, siekte of langdurige stres nie net hulle omstandighede nie, maar ook hullr selfbeeld, rigting en sin vir wie hulle is.
-
697
Geestesgesondheid 20 Januarie 2026
Johan van Lill praat oor ’n ervaring wat veel dieper sny as punte en verslae: Wat gebeur met ’n mens se binneste wanneer ’n leerder ’n teruggehou word in Graad R, of ‘n graad op skool herhaal. Vir baie raak dit nie net akademie nie, maar identiteit, selfbeeld en die stil stem wat begin vra: Wat sê dit van my? In hierdie sensitiewe gesprek fokus Johan saam met dr, Elzette Fritz, ‘n opvoedkundige sielkundige, op die emosionele en geestesgesondheidsimpak van graadherhaling oor ’n leeftyd.
-
696
Geestesgesondheid 13 Januarie 2026
Johan van Lill praat oor ’n sagte, eerlike begin van die nuwe jaar, veral vir mense wat moeg is, onder druk leef, of met angs, depressie of rou worstel. In ’n tyd waar die wêreld vinnig vorentoe wil beweeg, bring hierdie gesprek ruimte vir rustigheid en menslikheid. Johan gesels met welstandberader Lynette Beer oor hoe ’n nuwe jaar nie altyd met drome en voornemens begin nie, maar soms net met asemhaal, oorlewing en genade.
-
695
Geestesgesondheid 6 Januare 2026
Johan van Lill praat met lewensafrigter Jan Niemand oor hoe om die nuwe jaar aan te pak. Ná ’n tyd van refleksie kom daar ‘n behoefte aan rigting, maar vir baie mense ook druk en onsekerheid. Die gesprek verken hoe ’n mens ’n nuwe jaar kan begin sonder oordrewe voornemens, en eerder met helderheid, realistiese beplanning en gewoontes wat by jou waardes pas.
-
694
Geestesgesondheid 30 Desember 2025
Johan van Lill praat met lewensafrigter Jan Niemand oor ’n vraag waarmee baie mense aan die einde van ’n jaar worstel: Hoe maak ek sin van die jaar wat verby is? Tussen herinneringe, teleurstellings en oomblikke van groei, kyk hulle na hoe ’n mens gesond kan terugkyk sonder selfoordeel. Die gesprek fokus op refleksie as ’n hulpmiddel om betekenis te vind, emosionele insig te verdiep en met groter helderheid die nuwe jaar tegemoet te gaan.
-
693
Geestesgesondheid 23 Desember 2025
Johan van Lill praat oor ’n tema wat baie mense raak: die emosionele impak van oorgewig wees. In ’n wêreld waar liggame maklik beoordeel word, hoor ons min oor die innerlike stryd agter die glimlag. Johan gesels met koskenner en televisiepersoonlikheid Marinda Engelbrecht oor haar persoonlike reis – nie oor dieetplanne nie, maar oor selfrespek, eerlikheid en die moed om grense te stel. Sy vertel hoe klein, volhoubare besluite haar gesondheid, selfbeeld en innerlike rus begin verander het.
-
692
Geestesgesondheid 16 Desember 2025
Hoe gesond is jou liefdesverhouding werklik wanneer julle die deur agter julle toemaak? In ’n wêreld waar baie paartjies saam leef, maar alleen voel, verken ons die werklikhede wat glad nie op sosiale media wys nie. Johan van Lill praat met verhoudingskenner Lynette Beer oor die klein patrone, die versteekte pyn en die ongesiene verskuiwings wat bepaal of ’n verhouding floreer of verbrokkel. Sy wys hoe vriendskap, vertroue en kwesbaarheid die ware boustene van ’n gesonde verhouding is, en waarom baie konflikte nie oor baklei gaan nie, maar oor die verlies van verbinding.
-
691
Geestesgesondheid 9 Desember 2025
Johan van Lill praat oor ’n onderwerp wat ‘n groot probleem in Suid-Afrika is. Aan die begin van Desember fokus ons op geweld teenoor vroue en kinders, en die werklikheid dat hierdie geweld dikwels in stilte voortleef. Drie vroue deel hulle ervarings, en wys hoe diep hierdie wonde sny. Daarna gesels Johan met Adri Klindt van Huis Jabez oor hoe hulle vroue en kinders ondersteun, wat uit gewelddadige omstandighede kom, en hoe die pad van veiligheid, herstel en nuwe hoop in die praktyk lyk.
-
690
Geestesgesondheid 2 Desember 2025
Johan van Lill praat met dr. Elzette Fritz oor die impak wanneer ’n eggenoot of lewensmaat die huis en die verhouding verlaat. Hulle verken hoe hierdie gebeurtenis almal in die huishouding raak. en hoe ’n mens sin kan probeer maak uit só ’n diep, pynlike ervaring.
-
689
Geestesgesondheid 25 November 2025
Johan van Lill praat met professor Jannie le Roux oor die kweek van positiwiteit, en hoe mense se ingesteldheid en gedagtes die manier beïnvloed waarop hulle werk, leef en met ander omgaan. Hy verduidelik hoe negatiewe denkpatrone maklik wortel skiet, hoe liggaamstaal, stemtoon en stilte ’n mens se emosionele toestand verklap, en waarom selfinsig die sleutel is om uit ou patrone te breek en nuwe, gesonde maniere van dink te vorm.
-
688
Geestesgesondheid 18 November 2025
Johan van Lill praat met Hazel Hattingh oor konteksblindheid in die werkplek. Wat beteken dit wanneer mense die situasie of die kamer verkeerd lees, en watter invloed het dit op werkverhoudings? Sy verduidelik hoe konteksblindheid manifesteer in gesprekke, hoe liggaamstaal, stemtoon en stilte belangrike leidrade is, en waarom selfinsig nodig is om misverstande te vermy.
-
687
Geestesgesondheid 11 November 2025
Johan van Lill praat met dr. Ronell Lemmer, ‘n kliniese sielkundige, oor emosionele regulering – hoe ons ons gevoelens kan herken, verstaan en gesond hanteer. Sy verduidelik hoe emosies deur die liggaam beweeg, hoe selfbewustheid help om stres en trauma te verwerk, en waarom dit belangrik is om oor ons emosies te praat. Dr. Lemmer bespreek ook die hantering van donkerder emosies en selfdoodgedagtes, hoe om waarskuwingstekens raak te sien, en watter eerste stappe mense kan doen om hulp te kry en herstel te begin.
-
686
Geestesgesondheid 4 November 2025
Johan van Lill praat met dr. Elzette Fritz, ‘n opvoedkundige sielkundige, oor boeliegedrag. Hulle ondersoek wat boeliegedrag werklik beteken, hoe dit verskil van aanranding of gewone meningsverskille, en waarom dit so wydverspreid in Suid-Afrika voorkom. Die gesprek kyk ook na die emosionele impak op kinders en volwassenes, die rol van ouers en skole in die voorkoming en ingryping, en die langtermyngevolge as boeliegedrag nie betyds gepak word nie.
-
685
Geestesgesondheid 28 Oktober 2025
Johan van Lill praat met lewensafrigter Jan Niemand oor depressie in die werkplek, en hoe ’n lewensafrigtingsbenadering kan help om die tekens van depressie raak te sien, praktiese hanteringswyses te ontwikkel en gesonde werkplekke te bevorder. Die gesprek verken hoe mense hulle eie veerkragtigheid kan versterk, en watter ondersteuning ’n werksomgewing kan bied om herstel en welstand moontlik te maak.
-
684
Geestesgesondheid 21 Oktober 2025
Johan van Lill praat met dr. Elzette Fritz, ‘n opvoedkundige sielkundige, oor die geestesgesondheid van kinders en tieners. Waarna moet ouers en versorgers oplet? Watter aspekte speel 'n rol in kinders en tieners se geestesgesondheid?
-
683
Geestesgesondheid 14 Oktober 2025
Johan van Lill praat met Ronell Lemmer, ’n kliniese sielkundige wat fokus op die praktiese toepassing van geestesgesondheid in die alledaagse lewe, oor wat goeie geestesgesondheid in die praktyk beteken, en hoekom dit belangrik is om jou emosionele, sielkundige en sosiale welstand te verstaan, te versorg en te ondersteun.
-
682
Geestesgesondheid 7 Oktober 2025
Johan van Lill praat met Rouxlene Badenhorst, streeksbestuurder van ADASA in die Wes- en Suid-Kaap, asook psigoterapeut en kliniese maatskaplike werker. Sy werk daagliks met pasiënte, families en versorgers wat deur demensie en Alzheimers geraak word, en bied praktiese ondersteuning, opleiding en hoop. Die gesprek fokus op hoe demensie die emosies van pasiënte beïnvloed, watter druk daar op families en versorgers in so ‘n situasie is, en waarom gemeenskapsbewustheid en deernisvolle sorg noodsaaklik is.
-
681
Geestesgesondheid 30 September 2025
Johan van Lill praat met Kendal Goosen, ’n spesialis in rou en verlies, wat haar sertifisering voltooi het by die Grief Recovery Institute, ’n internasionaal erkende instelling. Sy help mense met die Grief Recovery Handbook op ’n praktiese en gesistematiseerde manier om verlies te verwerk, en weer hoop te vind. Die gesprek fokus op hoe ons verlies dikwels onderskat, hoe dit ons emosies en verhoudings beïnvloed, en waarom dit soms so moeilik is om rou regtig te hanteer.
-
680
Geestesgesondheid 23 September 2025
Johan van Lill praat met Lizette Volkwyn, ‘n lewensafrigter en bekend as die menslike leuenverklikker, oor hoe om werklik te luister – nie net na woorde nie, maar ook na die waarheid wat soms rou en ongemaklik is. Hulle praat oor hoekom dit so moeilik is om die waarheid te hoor, hoe dit ons emosies en verhoudings raak, en watter rol eerlike gesprekke in geestesgesondheid speel. Daar is ook praktiese wenke oor hoe om beter te luister, en waarheid as iets helend te gebruik.
-
679
Geestesgesondheid 16 September 2025
Johan van Lill praat met Madré Fraenkel, ’n arbeidsterapeut en kenner van demensie. Die gesprek fokus op hoe demensie- en Alzheimerpasiënte se denke, geheue en emosies geraak word. Hulle praat oor die vroeë tekens wat families kan opmerk, hoe dit gesinsverhoudings beïnvloed en watter spanning met versorging ontstaan. Daar is ook praktiese wenke oor hoe om onafhanklikheid langer te behou, geestesgesondheid te beskerm en as familie beter voorbereid te wees.
-
678
Geestesgesondheid 9 September 2025
Johan van Lill praat met Jan Niemand, ’n lewensafrigter, oor angs in die werkplek, en hoe dit mense se denke en liggaam beïnvloed. Hulle praat oor hoe stres, oorlading en onsekerheid angs kan vererger, hoe dit verhoudings by die werk raak, en watter praktiese maniere daar is om dit te hanteer, balans te vind, en nuwe gewoontes aan te leer.
-
677
Geestesgesondheid 2 September 2025
Johan van Lill praat met Ronell Lemmer, ’n kliniese sielkundige, oor die trauma wat dikwels saam met uitbranding kom, en hoe dit mense se liggaam en brein raak. Hulle praat oor hoe skuldgevoel, skaamte en werkverslawing uitbranding vererger, hoe dit verhoudings beïnvloed, en watter praktiese maniere daar is om hulp te kry, te herstel en nuwe grense te stel.
-
676
Geestesgesondheid 26 Augustus 2025
Johan van Lill praat met dr. Elzette Fritz, ’n opvoedkundige sielkundige, oor die -ismes wat ons so maklik gebruik, soos rassisme, seksisme en ander etikette, en die invloed wat dit op mense se geestesgesondheid het. Hulle gesels oor hoe stereotipering en onnadenkende taal mense se selfbeeld en verhoudings kan skaad, en gee praktiese maniere om meer sensitief, inklusief en bewustelik te leef.
-
675
Geestesgesondheid 19 Augustus 2025
Johan van Lill praat met Kobus Burger, RSG se programbestuurder én ’n kenner op die gebied van asemhaling. Dit is ’n praktiese sessie waar luisteraars drie kragtige asemhalingstegnieke kan doen: die “psychological sigh”, “coherent breathing” en 20 gekonnekteerde asemhalings. Kobus wys stap-vir-stap hoe om dit reg te doen, verduidelik die wetenskap daaragter, en beskryf hoe elke tegniek jou liggaam en gemoed kan beïnvloed.
-
674
Geestesgesondheid 12 Augustus 2025
Johan van Lill praat weer met lewensafrigters Jan Niemand en Hazel Hatting. Ná hulle vorige gesprek oor ADHD in volwassenes het daar ’n oorweldigende hoeveelheid luisteraarsreaksie ingestroom. Daarom het ons hulle teruggenooi om die luisteraars se vrae te beantwoord.
-
673
Geestesgesondheid 5 Augustus 2025
Johan van Lill praat met lewensafrigters Jan Niemand en Hazel Hatting oor wat ADHD beteken vir volwassenes in die werksplek. Ons kyk na hoe ADHD in volwassenes manifesteer – van tydsbeplanning, hiperfokus en uitbranding tot kreatiwiteit en intense probleemoplossing – en watter aanpassings individue én werkplekke kan maak om nie net te oorleef nie, maar te floreer.
-
672
Geestesgesondheid 29 Julie 2025
Johan van Lill praat met dr. Melodie de Jager, 'n ontwikkelingskenner, oor die belangrike, maar dikwels misgekykte rol wat aanraking in geestesgesondheid speel. Wat gebeur as mens fisieke kontak verloor, of dit nooit regtig ervaar het nie? Sy verduidelik wat in die brein, liggaam en emosionele landskap gebeur wanneer daar ’n tekort aan aanraking is.
-
671
Geestesgesondheid 22 Julie 2025
Johan van Lill praat met dr. Elzette Fritz oor enkelouerskap, en wat dit vir geestesgesondheid beteken. Wat gebeur as jy skielik of geleidelik die volle verantwoordelikheid vir ouerskap dra? Sy verduidelik die emosionele impak, rou oor verlore drome, en die sosiale druk wat dikwels op enkelouers rus. Ons kyk na hoe kinders dié dinamiek ervaar, wat selfversorging vir ’n enkelouer regtig beteken, en hoekom empatie en sinvolle ondersteuning uit die gemeenskap so belangrik is.
-
670
Geestesgesondheid 15 Julie 2025
Johan van Lill praat met joernalis Jean Oosthuizen oor sy persoonlike pad met geestesgesondheid te midde van kritiek, moeilike onderwerpe en openbare gesprekke oor geloof en geregtigheid. Hoe hanteer jy innerlike spanning wanneer die wêreld buite so hard praat? Jean deel eerlik oor selfversorging, veerkragtigheid en balans, en hoe om jou menswees te behou midde-in ander mense se stories.
-
669
Geestesgesondheid 8 Julie 2025
Johan van Lill praat met opvoedkundige sielkundige dr. Elzette Fritz oor die terugvoer wat kinders van volwassenes ontvang by die huis, die skool en in hulle sosiale kringe. Hoe beïnvloed daardie woorde, gebare of stiltes kinders se selfbeeld, gedrag en leer? Dr. Fritz verduidelik watter soorte terugvoer betekenisvol is, hoe kinders dit emosioneel verwerk, en hoe ons dit kan gebruik om hulle welstand op ’n gesonde manier te ondersteun.
-
668
Geestesgesondheid 1 Julie 2025
Johan van Lill praat met lewensafrigter Jan Niemand oor hoe ons as individue sinvol kan omgaan met geopolitieke onsekerheid. Wat maak ’n mens met wêreldgebeure, soos die konflik tussen Israel en Iran? Hy bied praktiese leiding, en verduidelik ’n model wat ons kan help om hierdie uitdagings emosioneel en geestelik te verwerk.
-
667
Geestesgesondheid 24 Junie 2025
Johan van Lill praat met Ronell Lemmer, 'n kliniese sielkundige, oor hoe trauma in jou liggaam vassteek, en hoe jy weer balans kan vind. Hulle praat oor implisiete geheue, die twee kante van die senuweestelsel, en hoe jy uit ’n traumadraaikolk kan beweeg. Sy deel praktiese hulpmiddels soos pendulasie, SIBAM en Ho’oponopono, en verduidelik hoe emosionele selfsorg en sagtheid jou veerkragtigheid kan herstel.
-
666
Geestesgesondheid 17 Junie 2025
Johan van Lill praat met dr. Elzette Fritz, 'n opvoedkundige sielkundige, oor die maskers wat kinders dra. Hulle gesels oor hoekom kinders hulle ware emosies wegsteek, nie om te jok nie, maar om te oorleef, aan te pas of nie in die pad te wees nie. Wat gebeur wanneer ’n kind leer dis nie veilig om hulleself te wees nie? Hoe raak dit hulle selfbeeld, verhoudings, en emosionele wêreld? Hoe help ons kinders om weer hulle eie stem en gevoelens terug te kry – sonder die masker?
-
665
Geestesgesondheid 10 Junie 2025
Johan van Lill praat met professor Jannie le Roux oor die stil, maar diepgaande emosionele uitdagings wat leiers dikwels dra. Hulle gesels oor hoe leierskap moed en visie verg, maar dikwels ook eensaamheid, twyfel en uitputting bring. Hoe raak die afwesigheid van veilige ruimtes, die druk om onkwesbaar te wees, en moeilike etiese besluite jou welstand? En hoe bou jy weer veerkragtigheid deur selfkennis, ondersteuning en ’n roeping wat sin gee aan dit wat jy doen?
-
664
Geestesgesondheid 3 Junie 2025
Johan van Lill praat met Lynette Beer, 'n spreker, lewensafrigter en skrywer, oor wanneer jy glimlag, maar jou hart is moeg. Hulle gesels oor hoekom mense emosionele maskers dra – daardie glimlag of sterk voorkoms wat ons wys, selfs wanneer ons van binne breek. Wat gebeur as jy te lank voorgee dat alles reg is? Hoe raak dit jou liggaam, jou verhoudings, en selfs jou geloof? En hoe begin jy weer eg en eerlik leef, sonder om jouself prys te gee?
No matches for "" in this podcast's transcripts.
No topics indexed yet for this podcast.
Loading reviews...
Loading similar podcasts...