PODCAST · education
Taaldinge
by RSG
Daar word gekyk word na die dinge wat taal beïnvloed en oor ‘n tydperk van sowat 300 jaar beïnvloed het, die redes hoekom ‘n mens op ‘n bepaalde manier skryf, en uitdrukkings, idiome en verskynsels.
-
743
Taaldinge: Taalnavrae
23 Augustus 2026: Praat ‘n mens van padwerk, of padwerke? Hoekom is dit burgemeester en nie burgermeester nie? Alet Cloete en Gerhard van Wyk van die WAT is saam met Ina Strydom in die atlejee om dié en ander luisteraarsvrae te beantwoord.
-
742
Taaldinge: Haas se Gat
16 Augustus 2026: Gerhard van Huyssteen en Kabous Meiring vertel vir Ina Strydom van ‘n nuwe speletjiesprogram, Haas se Gat, wat binnekort op RSG se webwerf ‘n tuiste sal vind. Ter illustrasie speel hulle die speletjie, wat op “Name, Vanne, Diere, Dorpe” gebaseer is.
-
741
Taaldinge: Die Vriende van Afrikaans se leesprojekte
9 Augustus 2026: Die projekbestuurder van die Vriende van Afrikaans, Chareldine van der Merwe, vertel vir Ina Strydom hoe dié organisasie tot stand gekom het, en wat hulle doen om lees en voorlees vir kinders te bevorder. Die VvA is ‘n afdeling van die ATKV.
-
740
Taaldinge: Afrikaanse Wikipedia
2 Augustus 2026: Die direkteur van die Afrikaanse Wikipedia, Deon Steyn, vertel vir Ina Strydom watter mylpale die afgelope jaar bereik is; watter uitdagings hulle ervaar; samewerking met ander Afrikaanse instellings; en planne vir die toekoms.
-
739
Taaldinge: Die herkoms van tekstielname
26 Julie 2026: Die taaladviseur van VivA, Maureen van Helden, vertel vir Ina Strydom waar tekstielname soos damask, linne en shweshwe vandaan kom. Hulle praat ook ook die taalkompetisie, Woordmeester.
-
738
Taaldinge: Onbeleefde taalgebruik op sosiale media
19 Julie 2026: Die taalkundige van die NWU, prof. Gerhard van Huyssteen, vertel vir Ina Strydom van navorsing wat hy en twee kollegas gedoen het oor onbeleefde taalgebruik in kommentaar op sosiale media; hoe die konstruksies lyk, en watter vorme dit kan aanneem ten einde deur te glip by platforms se reëls oor byvoorbeeld vloekwoorde en rassisme.
-
737
Taaldinge: Die Afrikaanse Taalraad
12 Julie 2026: Die Afrikaanse Taalraad het onlangs herbesin oor sy rol en die pad vorentoe. Die direksievoorsitter, Daan Potgieter, vertel vir Ina Strydom wat die mandaat is, en hoekom die rol van die ATR so belangrik is vir Afrikaans.
-
736
Taaldinge: Idiome en gesegdes
5 Julie 2026: Die herkoms van Afrikaanse idiome en gesegdes kan teruggespoor word na die Griekse mitologie en die Bybel; ook na die Groot Trek en ander tydperke; en na bedrywe soos seevaart. Karien Brits van Akademia gee vir Ina Strydom ‘n paar voorbeelde, en vertel ook waarom dit belangrik is vir taal en taalgebruikers om idiome te hê en te gebruik.
-
735
Taaldinge: Luisteraarsvrae
28 Junie 2026: Waar kom die uitdrukking “onder ‘n kalkoen uitgebroei” vandaan? Wat is die herkoms van die woord “affronteer”? En hoe maak ‘n mens seker dat jy moreel en moraal reg gebruik? Gerhard van Wyk en Alet Cloete van die WAT is saam met Ina Strydom in die ateljee om dié en ander vrae te beantwoord.
-
734
Taaldinge: Die passiefkonstruksie in Afrikaans: wat is besig om te gebeur?
21 Junie 2026: Die taalkundige, Suléne Pilon van die Universiteit van Pretoria, vertel vir Ina Strydom meer oor haar navorsing oor die passiefkonstruksie in Afrikaans. Sy vertel hoe sy te werk gegaan het, wat sy vasgestel het, en wat die redes vir haar bevindings kan wees.
-
733
Taaldinge: Taalnavrae – Sneeuval & Keper
Alet Cloete, senior mederedakteur, en Gerhard van Wyk, eindredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, beantwoord luisteraars se taalnavrae. Hulle bespreek onder meer die gebruik van die woord “sneeuval”, en verduidelik wat “keper” in “op die keper beskou” beteken.
-
732
Taaldinge: Vertaling van Sesotho-boek in Afrikaans
7 Junie 2027: Emeritus-professor in Afrikatale by Unisa, prof. Chris Swanepoel, vertel vir Ina Strydom meer oor sy vertaling van “Koning Mohlomi, seun van Monyane”, deur SM Guma, in Afrikaans. Hy verduidelik hoe hy te werk gaan aangesien die tale in verskillende taalfamilies is en Afrikatale gewoonlik beeldryk en beskrywend is. Hy vertel ook meer oor die skrywer; waarom dié koning besonders was; en waarom vertaling uit ander inheemse tale in Afrikaans belangrik is.
-
731
Taaldinge: Taalnavrae - Jou kierankies sal braai
31 Mei 2026: Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se eindredakteur, Gerhard van Wyk, en senior mederedakteur, Alet Cloete, is saam met Ina Strydom in die ateljee om ‘n paar taalvrae te beantwoord wat deur luisteraars ingestuur is. Hulle praat onder meer oor die herkoms van die uitdrukking “jou kierankies sal braai” en wonder of daar ‘n woord is om die plasing van iemand se as in ‘n nis te benoem, soos wat teraardebestelling gebruik word vir ‘n gewone begrafnis.
-
730
Taaldinge: Taaladviseur Maureen van Helden
24 Mei 2026: Die taaladviseur van die Virtuele Instituut vir Afrikaans, Maureen van Helden, vertel vir Ina Strydom wat haar werk as taaladviseur behels, haar rubriek, Taalsmid in Die Papier, en die kompetisie, Woordmeesters, wat VivA saam met Akademia doen. Die kompetisie toets spel- en taalkennis, en daar is kategorieë vir skoolkinders, studente en volwassenes.
-
729
Taaldinge 17 Mei 2026
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se tweede Regsimposium het onlangs plaasgevind. Die voorsitter van die Kommissie, adv. Jean Meiring, vertel vir Ina Strydom van die groot belangstelling wat daar was, die verskeidenheid onderwerpe wat gedek is, en die waarde van sodanige byeenkomste.
-
728
Taaldinge 10 Mei 2026
Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal vier vanjaar sy eeufees. Dié mylpaal is op 7 Mei in Stellenbosch gevier. Die hoofredakteur, dr. Phillip Louw, vertel vir Ina Strydom meer oor die feesjaar, die spertyd om die eerste uitgawe tot by Z te voltooi, en verdere toekomsplanne.
-
727
Taaldinge 3 Mei 2026
Wat maak ’n mens met modewoorde, gonswoorde en hebbelikhede wat in ‘n taal ontstaan? Is dit deel van “normale” taalverandering? Die taalkundige, prof. Ernst Kotze, vertel vir Ina Strydom meer hieroor.
-
726
Taaldinge 26 April 2026
Dr. Donovan Lawrence van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland vertel vir Ina Strydom meer oor ‘n internasionale konferensie waar hy onlangs die hoofspreker was. Die fokus was op die variëteite van Afrikaans. Hy praat ook ‘n verskuiwing wat begin plaasvind wat betref die gebruik van nie-standaard variëteite van Afrikaans.
-
725
Taaldinge 19 April 2026
Ter viering van die WAT se eeufees vanjaar het Jana Luther ‘n keur uit haar taalrubrieke saamgestel in ‘n bundel: “En nog WAT- uit die woordeskat van Afrikaans”. Sy vertel vir Ina Strydom meer oor die boek. Gerhard van Wyk en Alet Cloete van die WAT beantwoord ook ‘n paar luisteraarsvrae.
-
724
Taaldinge 12 April 2026
Hoe gaan ‘n akademikus te werk om ‘n omvattende akademiese naslaanwerk te omskep in ‘n toeganklike populêr-wetenskaplike boek? Die taalkundige, prof. Wannie Carstens, vertel vir Ina Strydom hoe hy dit benader.
-
723
Taaldinge 5 April 2026
Die bekende woordeboekmaker en emeritus-professor by die Departement Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch, prof. Rufus Gouws, vertel vir Ina Strydom waar die WAT inpas in die familie van woordeboeke; hoe daar te werk gegaan word om ‘n omvattende woordeboek saam te stel; en wat van woorde word wat verouderd is of waaroor sensitiwiteit bestaan.
-
722
Taaldinge 29 Maart 2026
Die onderwys- en woordeboekman, dr. Willem Botha, vertel vir Ina Strydom van ‘n paar unieke Afrikaanse eienskappe: reduplikasie, die dubbele ontkenning, en die ja-nee konstruksie – en waar dit vandaan kom.
-
721
Taaldinge 22 Maart 2026
Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se Gerhard van Wyk en Alet Cloete is saam met Ina Strydom in die ateljee om luisteraars se taalnavrae te beantwoord. Hulle bespreek onder meer die herkoms van die uitdrukking, deur die mat val, en die woord, repliek.
-
720
Taaldinge 15 Maart 2026
Woorde op Wiele is ‘n inisiatief van die private hoëronderwysinstelling, Aros, om lees by tieners in die Noord-Kaap te bevorder. Die projek sal ook Afrikaans as moedertaal en as akademiese taal by plattelandse skole versterk. Dr. Olga Channing van Aros vertel vir Ina Strydom wat die projek behels.
-
719
Taaldinge 8 Maart 2026
Wat is ‘n harmansdrup? Waar kom die uitdrukking “die klok hoor lui, maar nie weet waar die bel hang nie” vandaan? Dié en ander luisteraarsvrae word deur Alet Cloete en Gerhard van Wyk van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal beantwoord.
-
718
Taaldinge 1 Maart 2026
In die tweede deel van die jaarlikse gesprek oor die stand van Afrikaans die vorige jaar, vertel prof. Wannie Carstens vir Ina Strydom watter aspekte van Afrikaans en die Afrikaanse leefwêreld nog standhoudend is, én hy wys uit waar werk en aandag nodig is.
-
717
Taaldinge 22 Februarie 2026
Internasionale Moedertaaldag is deur Unesco ingestel, en word sedert 2000 jaarliks gevier. Milanie Vosloo en Annelie van Jaarsveldt van Afrikaans.com praat met Ina Strydom oor die waarde van moedertaalonderrig vir skoolprestasie en akademiese vordering.
-
716
Taaldinge 15 Februarie 2026
Die bekende taalkundige prof. Wannie Carstens deel sy indrukke oor die stand van Afrikaans in 2025 met Ina Strydom in hulle jaarlikse oorsig oor die goeie, die kommerwekkende en die bestendige dinge wat die vorige jaar in Afrikaans sigbaar was.
-
715
Taaldinge 8 Februarie 2026
Wat is Afrikaans se posisie in die digitale ruimte? Die Virtuele Instituut vir Afrikaans het pas met ‘n navorsingsprojek begin om die digitale lewenskragtigheid van Afrikaans te meet. Die navorsing word in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gedoen. Die bestuurshoof van VivA, Marlie Coetzee, vertel vir Ina Strydom meer oor die navorsing en die doel daarvan.
-
714
Taaldinge 1 Februarie 2026
Dr. Donovan Lawrence van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland vertel vir Ina Strydom hoe sosiale media en digitale tegnologie die manier verander waarop taal gebruik word, en waarom nuwe taalvaardighede in skole onderrig en ontwikkel moet word.
-
713
Taaldinge 25 Januarie 2026
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wag tans benoemings in vir sy gesogte pryse. Die bestuurshoof, dr. Annelise de Vries, praat met Ina Strydom oor watter pryse vanjaar toegeken word; hoe die proses werk; en waarom die pryse belangriker as ooit is te midde van toenemende druk op Afrikaans as akademiese en openbare taal.
-
712
Taaldinge 18 Januarie 2026
Die senior mederedakteur van die WAT, Alet Cloete, en die WAT se eindredakteur, Gerhard van Wyk, is weer saam met Ina Strydom in die ateljee om luisteraarsvrae te beantwoord. Van die vrae wat bespreek word, sluit in die skryfwyse van kombinasies soos “onder 19-span” en die herkoms van die woord “opdok”.
-
711
Taaldinge 11 Januarie 2026
Prof. Marné Pienaar van die Departement Tale, Kultuurstudie en Toegepaste Linguistiek aan die Universiteit van Johannesburg, vertel vir Ina Strydom wat Nathan Trantraal se vertaling van die Amerikaanse skrywer Jason Reynolds se LONG WAY DOWN, so besonders maak. Trantraal se vertaling in Kaaps, LANG PAD ONNE TOE, is in 2021 met die UJ Vertaalprys vir jeugtekste bekroon.
-
710
Taaldinge 4 Januarie 2026
Alet Cloete en Gerhard van Wyk van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal is saam met Ina Strydom in die ateljee om luisteraarsvrae te beantwoord. Hulle bespreek onder meer die klaarblyklike verdringing van die woord “sake” deur “besigheid”; die herkoms van die woord pistachio-neut; en die verskil tussen weerlê en weerspreek.
-
709
Taaldinge 28 Desember 2025
Wat beteken harlaboerla, kannie-koenie en flierefluiter? Jana Luther van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal vertel vir Ina Strydom meer oor dié en nog ‘n paar ander woorde se herkoms, betekenis en gebruike.
-
708
Taaldinge 21 Desember 2025
Die taalkundige, prof. Ernst Kotzé, verduidelik wat grammatikale geslag is, in watter tale dit voorkom, en wat Afrikaans se posisie is. Hy praat ook oor die neiging dat daar soms na entiteite soos skepe en motors, en die taal Afrikaans self, as vroulik verwys word, en waarom dit nie eie aan die struktuur van Afrikaans is nie.
-
707
Taaldinge 14 Desember 2025
Die bestuurshoof van die Afrikaanse Onderwysnetwerk, Daan Potgieter, vertel vir Ina Strydom wat die AON doen wat betref vroeëkinderontwikkeling en taalontwikkeling. Hulle praat ook oor die noodsaaklikheid van moedertaalonderrig, en die waarde van Afrikaanse skole.
-
706
Taaldinge 7 Desember 2025
Die senior mederedakteur van die WAT, Alet Cloete, en die eindredakteur, Gerhard van Wyk, is saam met Ina Strydom in die ateljee om luisteraarsvrae te beantwoord. Hulle bespreek onder meer anglisismes en nuutskeppings.
-
705
Taaldinge 30 November 2025
Taalpraktisyn Tom Mclachlan verduidelik waarom biljoen in Afrikaans aanvaarbaar is, maar iets anders beteken as die Engelse “billion”, en waarom die komma eerder as die punt gebruik word om breuke aan te dui. Die eindredakteur van die WAT, Gerhard van Wyk, verduidelik hoe transliterasie werk.
-
704
Taaldinge 23 November 2025
Die stigter en bestuurshoof van Naledi Uitgewers, Johan Coetzee, vertel waarom hy nispublikasies soos digbundels en Afrikaanse vertalings van werk uit die wêreldletterkunde uitgee, en wat die grootste uitdagings vir hom as onafhanklike uitgewer is.
-
703
Taaldinge 16 November 2025
Die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie, Suléne Pilon, het onlangs die 54ste Hertzog-gedenklesing gelewer oor die konseptuele metafore wat vir Afrikaans gebruik word. Sy vertel vir Ina Strydom wat haar ondersoek opgelewer het.
-
702
Taaldinge 9 November 2025
In deel 2 van Ina Strydom se gesprek met die bekroonde vertaler, prof. Naòmi Morgan van die Departement Afrikaans, Nederlands, Frans en Duits aan die Universiteit van die Vrystaat, vertel sy hoe sy te werk gegaan het met die vertaling van Samuel Beckett se ONS WAG VIR GODOT. Beckett het dié drama eers in Frans geskryf, en ‘n paar jaar later self in Engels vertaal. Prof. Morgan het die 2025 UJ-Prys vir Vertaling ontvang vir haar Afrikaanse vertaling van dié drama wat as een van die bekendstes ter wêreld bestempel word. Sy beklemtoon ook die waarde van vertalings van literêre werk in Afrikaans.
-
701
Taaldinge 2 November 2025
Die bekende en bekroonde vertaler, prof. Naòmi Morgan van die Departement Afrikaans, Nederlands, Frans en Duits aan die Universiteit van die Vrystaat, vertel vir Ina Strydom meer oor die wetenskap en die kuns van vertaling, nadat sy vroeër vanjaar die gesogte UJ-prys vir vertaling ontvang het vir haar vertaling van Samuel Beckett se Ons wag vir Godot.
-
700
Taaldinge 26 Oktober 2025
‘n Uitsonderlike publikasie oor die Afrikaanse kunslied het onlangs uit die pen van twee hoogleraars in vokale musiek by die Universiteite van Oklahoma en Furman in die VSA verskyn. Die bekende taalkundige, prof Ernst Kotzé, het as spesiale redakteur opgetree. Hy vertel vir Ina Strydom meer oor die boek, en wat dit só besonders maak.
-
699
Taaldinge 19 Oktober 2025
Dit is welbekend dat Afrikaans op verskeie gebiede onder druk is, insluitend dat Afrikaanse skole al minder word. Dit lei daartoe dat al minder studente die vak Afrikaans op universiteit neem, en Afrikaans-departemente raak al kleiner. Die bekende taalkundige, prof. Wannie Carstens, vertel vir Ina Strydom meer oor ‘n voorstel wat hy het om dié neigings teë te werk.
-
698
Taaldinge 12 Oktober 2025
Alet Cloete en Gerhard van Wyk van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal is weer saam met Ina Strydom in die ateljee om luisteraars se taalnavrae te beantwoord. Hulle beantwoord onder meer ‘n vraag oor die gebruik van “sny” vir rentekoerse; en verduidelik waar iets soos oliekolonie vandaan kom, en wat dié verskynsel genoem word.
-
697
Taaldinge 5 Oktober 2025
Die Afrikaanse Taal- en Letterkundevereniging is onlangs in Bloemfontein gestig. Die voorsitter van die ATLV, dr. Janien Linde van die NWU, vertel vir Ina Strydom wat die doel van die vereniging is, en waarom rolspelers dit tot stand gebring het.
-
696
Taaldinge 28 September 2025
Wat is ‘n goeie Afrikaanse vertaling vir ‘n “wake”; en is dit korrek om te praat van ‘n driedubbele moord? Is huidiglik aanvaarbaar? Dié en ander taalnavrae word deur Gerhard van Wyk en Alet Cloete van die WAT beantwoord.
-
695
Taaldinge 21 September 2025
Die deskundige getuienis van ‘n forensiese taalkundige, dr. Karien van den Berg van die NWU, het onlangs daartoe gelei dat die EFF-leier Julius Malema, in die Gelykheidshof skuldig bevind is aan haatspraak. Sy vertel vir Ina Strydom hoe taalkundige metodes en beginsels gebruik word om uitlatings te ontleed.
-
694
Taaldinge 14 September 2025
Rolprentkenner Leon van Nierop vertel vir Ina Strydom wanneer vloek of kru taal in onder meer rolprente aanvaarbaar is. Hy praat oor geloofwaardigheid en konteks, en ook oor wanneer die gebruik van vloekwoorde onvanpas is of gewoon dui op ‘n lui skrywer. Hulle praat na aanleiding van die nuwe Afrikaanse rolprent MY F*K MARELIZE!
We're indexing this podcast's transcripts for the first time — this can take a minute or two. We'll show results as soon as they're ready.
No matches for "" in this podcast's transcripts.
No topics indexed yet for this podcast.
Loading reviews...
Loading similar podcasts...