Kerkbode Kollig

PODCAST · religion

Kerkbode Kollig

Gereelde podcasts gevul met insetsels oor kerknuus, geloofstories en gesprekke om jou in te lig, laat nadink en inspireer. Kerkbode is die amptelike nuusblad van die NG Kerk.

  1. 62

    Episode 60 | Hoekom moet ons steeds oor die Belhar-belydenis praat? - Gesprek met prof Allan Boesak

    Die Belydenis van Belhar se uitkringeffek is veel wyer as die woongebied op die Kaapse Vlakte waarna die dokument vernoem is. Veertig jaar later praat hierdie geloofsverklaring se sentrale tema van versoening in Christus steeds met die harte van kerkleiers regoor die wêreld. In hierdie episode van Kollig herbesoek Heléne Meissenheimer die ontstaansgeskiedenis en die teologie van die Belydenis van Belhar. Sy praat met Prof Allan Boesak, wat moderator was van die sinode wat dit in 1986 as volwaardige belydenisskrif van die destydse NG Sendingkerk (vandag Verenigende Gereformeerde Kerk) aanvaar het. ‘Hoe volg ons die Evangelie tot by die plekke waar daar onderdrukking en onreg is?’ · Belydenis van Belhar

  2. 61

    Episode 59 | Hoe praat ons oor oorlog? - Gesprek met prof Stephan Joubert

    Die gemak waarmee sommige in die VSA sowel as elders oorlogsverwysings uit die Bybel aanhaal om die huidige konflik in die Midde-Ooste te regverdig, laat vele Christene die wêreld oor ongemaklik... Ons praat hieroor met die teoloog en skrywer, prof Stephan Joubert.

  3. 60

    Episode 58 | Oor ‘getuienis’ agter die stuurwiel + ’n gebedsgids vir Paastyd

    In die kerk hoor ons baie oor wat dit beteken om oor jou geloof te getuig, maar wat van geloof op die pad? Met Paasnaweek om die draai, een van die besigste tye op ons paaie, fokus ons in hierdie Kollig-episode op wat agter die stuurwiel gebeur. Sielkundige Erich Schoeman verduidelik van die oorsake van padwoede en deel wenke vir hoe om stresvolle situasies op die pad anders te hanteer. Ons gesels ook met dr Nioma Venter oor Op weg met Jesus, ’n nuwe gebedsgids saamgestel deur die Algemene Taakspan Evangelisasie spesifiek met die oog op Paasfees. Sy verduidelik waar die idee vandaan gekom het en hoe dit gebruik kan word om gefokus te bid (vir meer klik op die webskakel). Gebedsgids vir Paasnaweek

  4. 59

    Kollig Episode 57 | Hoe praat ons oor Christelike geloofstyle? - Nico Simpson

    Die ideale gemeente is een waar gebroke mense voel hulle kan behoort. Só vertel dr Nico Simpson, uitvoerende hoof van Bybel-Media. In hierdie gesprek vir Kerkbode Kollig vertel hy meer oor wat ’n vraelys oor geloofstyle vir hom duidelik gemaak het oor wat lidmate in ’n gemeente soek. Ook wat hulle nie soek nie. Hy sê uit 900 mense se terugvoer is dit vir hom baie helder predikante moet mense ontmoet daar waar hulle in hulle geloofsreis is. * Kerkbode is 'n publikasie van Bybel-Media. Leier, jy lees jou gemeente verkeerd! | Waarom jou gemeente nie reageer soos jy dink hulle sal nie

  5. 58

    Kollig episode 56 | | Wie gee om vir die een wat omgee?

    Onderwysers, maatskaplike werkers en predikante moet so opgelei word dat hulle weerbaar is vir trauma. “Ons moet hulle die toerusting gee om ’n veilige hawe te wees en nie self uit te brand nie.” Só sê die rektor van Hugenote Kollege, prof Retha Bloem. Sy vertel in hierdie episode van Kerkbode Kollig meer oor wat bedoel word met ’n trauma-ingeligte kurrikulum asook hoe sy meen ’n Christelike etos kan bydra tot wat sy noem ’n pedagogie van hoop. Die oud-maatskaplike werker praat ook oor hierdie kollege op Wellington se eie storie van hoop.

  6. 57

    Kollig episode 55 | ‘Gebed is vir my soos my GPS' - Dewald Hoffman, samesteller van nuwe gebedsbundel

    Vroeër was sy benadering tot gebed dalk anders, maar deesdae wil hy spasies daarvoor in sy lewe skep, waar gebedsritmes as anker te midde van onsekerheid dien. Só vertel ds Dewald Hoffman, samesteller van die 'Gebedsboek vir tye wat tel' wat Bybel-Media in 2025 uitgegee het. Die boek bevat 365 gebede wat ingedeel is volgens die seisoene van die kerkjaar. Onder die wye spektrum tel gebede deur al die eeue van die Christendom vanaf antieke kerkvaders tot vandag se tye met Moeder Teresa, Desmond Tutu, Cas Wepener en Jan Lubbe. Hoffman se hoop is dat lesers van die boek ’n ontmoeting met God sal hê. In hierdie gesprek oor gebed, oor die skrywer en oor die skryfproses, verduidelik Hoffman dat gebed vir hom met ’n anker of liggingstoestel (kompas of GPS!) vergelyk kan word. * Bybel-Media is ook die uitgewer van Kerkbode. Resensie | ’n Gebed vir elke dag van die jaar · Bybel-Media

  7. 56

    Kollig episode 54 | Kerkwees in krisistye: Marinda van Niekerk van Respond SA in gesprek met ander

    Ons is besig om dié vliegtuig in die lug te bou. Só vertel dr Marinda van Niekerk oor Respond SA, die interkerklike ramphulporganisasie wat in Februarie 2024 formeel op die been gebring is en waarvan sy hoof is. In hierdie wydlopende gesprek vertel twee gemeenteleraars van hulle ervaring van die goed én sleg wat tydens ramphulp kan gebeur. Vanuit die kantoor van die Algemene Sinode vertel dr Nioma Venter, ’n kenner met wye ervaring van kerklike netwerke en ook medestigter van Respond SA, wat vir haar die geskenke is wat die kerk in krisistye het om te gee. Sy noem dit die drie C’s (Convene, Connect, Communicate in Engels) en bring ’n vierde een in: Christus want “sy liefde dring ons”. Sy verduidelik ook hoe die noue verbintenis tussen die NG Kerk en Respond SA werk soos gesien met hulpaksies na die verwoestende vloede in Januarie in die noorde van die land. Navrae: dr Marinda van Niekerk op [email protected] en dr Nioma Venter by [email protected] Respond SA Nasionale Rampverligtingnetwerk · Vennote vertel oor hulp tydens rampe: ‘Behoefte word bepaal deur mense op grondvlak’ – ds Alex Clark, Diaconia

  8. 55

    Kollig episode 53 | Vroue in leierskaprolle by die kerk – die gesprek bly relevant

    Dit was nie “Die Kerk” wat haar meer as twee dekades gelede gekeer het om teologie te gaan studeer nie … Dit was sy sélf. Só vertel dr Nioma Venter in ’n gesprek oor vroue as leiers in die kerk. Venter is algemene sekretaris van die NG Kerk en een van drie paneellede wat gesels het oor Skrifverstaan, hoe kerkwees lyk as ’n mens van mekaar verskil en hoekom hierdie onderwerp relevant bly. Saam met haar in gesprek is Lerisa Meyer, ’n gemeenteleraar van die NG Kerk in KwaZulu-Natal en vanaf die Hervormde Kerk, Tanya van Wyk wat ’n professor in sistematiese teologie is. Die gesprek volg na aanleiding van besluite wat geneem is by die sinode van die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (GKSA) op Potchefstroom in Januarie (Lees meer in Kerkbode - webskakel is onder) – maar is nie ’n indiepte-bespreking daarvan nie. Luister gerus saam na 2026 se eerste episode vir Kerkbode Kollig, ’n reeks wat kerknuus met deernis en insiggewend wil bespreek. GKSA hou sinode op Potch: Eie gemeentes móét nou konformeer of uit verband tree + Verhouding met NGK afgeskaal

  9. 54

    Kollig episode 52 | Aftrede – Dr Thys Smith vertel meer oor hierdie lewensfase

    Die lewensfase na aftrede trek wêreldwyd aandag. Mense leef langer en werk langer. Dit het “statuur gekry” sê dr Thys Smith van Wellington. Hy het self al drie keer afgetree en op 79 het hy ook ’n boek geskryf oor die tema van sinvol aftree. Hy sê een van die belangrike dinge wat hy ontdek het ’n mens met aftrede moet weet is dat jy aftree nie om te gaan stil sit nie, maar om aan te tree vir ’n nuwe lewensfase. Een met sy eie unieke uitdagings, geleenthede en genietinge. Só vertel hy vir Heléne Meissenheimer vir hierdie aflewering van Kerkbode Kollig. In ons podsending van so 15 minute vertel hy meer oor die leefwêreld van ouer mense vandag na aanleiding van sy boek, Anderkant 65: Aftrede en daarna. Dr Thys Smith se boek kan aanlyn bestel word by CLF (R230). Kyk ook uit vir die onderhoud met hom in die Desember-uitgawe van LiG, susterpublikasie van Kerkbode.

  10. 53

    Kollig Episode 51 | ‘Ons as kerke kan mekaar nie los nie’ – Jan Lubbe en Nioma Venter

    Om saam met gelowiges uit kerke in ander lande te bid, sing (ook in isiXhosa!) en gesels oor brandpunte soos ekonomiese geregtigheid, kommer oor militarisering en meer was vir hom verrykend. “Ons is ’n geskenk vir mekaar.” Dit is vir hom die waarde van deel wees van ’n ekumeniese netwerk, vertel ds Jan Lubbe in hierdie aanlyn gesprek vir Heléne Meissenheimer. Hy en dr Nioma Venter was deel van ’n afgevaardigde groep vanuit die NG Kerk wat in Oktober in Thailand was. Hulle het saam met ander uit Suid-Afrika die 27ste samekoms van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke bygewoon, ’n netwerk van meer as 100 lidkerke wat vanjaar 150 jaar oud is. Die tema van hierdie samekoms was ‘Volhard in jou getuienis’. Die moderator van die NG Kerk (soms ‘tjip sy worshond in’) en algemene sekretaris vertel meer oor die konferensie wat ’n besoek aan ’n kamp vir oorlogsvlugtelinge ingesluit het. Dit het ’n diep indruk gelaat. Hulle praat ook oor wie hulle daarna in Japan ontmoet het en wat hulle daar ontdek het oor volhard in jou getuienis in ’n land waar Christene minder as 1% van die bevolking uitmaak.

  11. 52

    Episode 50 | Yolanda Dreyer oor hoe ’n mens met jou eie stukkendheid kan werk en die krag van pastorale sorg

    Niemand van ons is heel nie, maar hoe werk jy met jou eie stukkendheid? Dit is die vraag wat aan die hart lê van ’n reeks gesprekke wat prof Yolanda Dreyer by die onlangse vergadering van die sinode NG Kerk in Oos-Kaapland gelei het. Skep ons deur heethoofdigheid, vervreemding van ons eie emosies en gekose onkunde oor die voortdurende invloed van ons kinderjare, nadelige uitkomste in ons lewens? En hoe breek ’n mens so patroon? Dreyer betrek die insig van Carl Jung met die aanhaling: “Until you make the unconscious conscious, it will direct your life and you will call it fate.” Hieroor kon sinodegangers nadink en gesels want vir drie aande in ’n ry was Dreyer die gasspreker by die sinodesitting in Gqeberha. Kerkbode het tussendeur die dagsessies wat sinodegangers met ander gesprekke en onderwerpe besig gehou het, eenkant gaan sit met dié praktiese teoloog en haar gevra om die verskil tussen berading en psigologie te verduidelik. Sy het oor die rol van geloof in haar eie lewe gepraat en verduidelik hoe sy dink oor die etiket van “baanbreker” wat dikwels op haar geplak word. (Dreyer was die eerste vrou wat toegelaat is tot die bediening in enige van die Afrikaanse susterkerke en die eerste vroue-professor aan UP se fakulteit teologie). “Self-insig en bly groei, is maar die belangrikste ding, dink ek, as ’n mens nie skade aan ander wil doen, vanuit jou eie stukkendheid nie. Want niemand van ons is heel nie. So êrens moet ons met ons eie stukkendheid te rade gaan, sodat my stukkendheid nie vir jou seermaak nie,” verduidelik Dreyer deur die loop van hierdie aflewering van Kollig, wat sowat 23 minute duur. - Le Roux Schoeman

  12. 51

    Episode 49 | ‘Hoe dink ons oor hulp?’ - Jan Lubbe in gesprek met ander oor Gasa-skenking

    Hoekom het die NG Kerk se leierskap juis nou besluit om R250 000 te skenk vir humanitêre hulp in Gasa? Wie kry die geld en kan ons vertrou die geld kom wel by noodlydendes uit? Hoekom het hierdie skenking soveel reaksie ontlok? Jan Lubbe en dr Nioma Venter gee breedvoerig toeligting op dié vrae in hierdie episode van Kerkbode Kollig. Ds Lubbe is moderator van die NG Kerk en Venter is die algemene sekretaris. Die politieke ontleder, prof Theo Venter, neem ook vanuit Potchefstroom af aan hierdie wydlopende gesprek deel. Hy gee sy insae in wat tans ontvou in die komplekse konfliksituasie tussen Gasa en Israel. Lees ook rubrieke en verklarings op Kerkbode se webtuiste. Vinnige feite | Die NG Kerk en plaaslike asook internasionale nood · NG Kerk gee uit medelye humanitêre hulp in Midde-Ooste

  13. 50

    Episode 48 | Dr Frikkie Coetzee vertel oor sy pad met evangelisasie

    Dr Frikkie Coetzee is ’n predikant van Pretoria en hy lei die NG Kerk se Algemene Taakspan Evangelisasie. In dié episode van Kollig vertel hy vir Heléne Meissenheimer meer van sy eie geloofspad en die werk van dié taakspan. Van die onderwerpe wat hy bespreek is ’n “holistiese kyk” na wat evangelisasie is asook die regstel van wanpersepsies en ’n entoesiasme rondom wat hy as Goddelike avontuur bestempel.

  14. 49

    Episode 47 | Maartje van der Westhuizen gesels met Barnard Beukman

    As ons oor die kerk dink, dan kyk ons dikwels na die kerkbesluite wat die koerantopskrifte haal, maar die hart van die kerk lê eintlik op gemeentevlak. So sê Maartje van der Westhuizen, assessor (ondervoorsitter) van die NG Kerk se Algemene Sinode Moderamen. Barnard Beukman, oud-redakteur en joernalis, het in nog ’n spesiale uitgawe vir Kerkbode Kollig met haar gesels oor die welstand van die kerk op gemeentevlak. Hulle gesels oor wat sy hoor en sien gebeur in gemeentes, wat die rol van die sinode is (meer staf as slaanstok), kritiese stemme in die kerk asook wat sy sien as positiewe veranderinge binne die kerk in die laaste jare.

  15. 48

    Episode 46 | Jan Lubbe in gesprek met Barnard Beukman

    "Hy dink nie ons ag die krag van ons woorde genoeg nie." So sê Jan Lubbe, moderator van die NG Kerk, met verwysing na die vlak van debat wêreldwyd, maar ook plaaslik in ons land se konteks sowel as in kerklike gesprekke. Lubbe het vroeër vanjaar in ’n rubriek aan Kerkbode, met verwysing na die sesde gebod ‘jy mag nie doodslaan nie’, geskryf oor wat God in hierdie gebod van gelowiges vra soos verwoord in die Heidelbergse Kategismus. In hierdie spesiale uitsending vir Kerkbode Kollig, gesels Barnard Beukman, oud-redakteur en joernalis, met Lubbe oor openbare debatvoering. Na aanleiding van die rubriek vra Beukman vir Lubbe oor hoe hy openbare verskille dan wil sien en oor die kerk se stem in die samelewing (moet net die NG Kerk ’n standpunt hê oor alles?).

  16. 47

    Episode 45 | ‘Siekte het my ’n beter predikant gemaak’

    Bennie Janse van Rensburg het ’n oorerflike spierkwynende siekte waarvoor daar nie genesing is nie. FSH-spierdistrofie, wat in 2007 by hom gediagnoseer is, het hom oor jare so verswak dat sy stewige paar bene hom nie meer kan vat waar hy wil wees nie. Hy kan nou nie eens meer uit die bed opstaan sonder dat Susan, sy ‘engel’ soos hy sy vrou noem, of sy versorger hom help nie. Die gebore Vrystater was vir 25 jaar predikant by die NG Moedergemeente Wellington voor hy op 60 in 2021 om mediese redes moes uittree. Lees ook sy getuienis op kerkbode.co.za Het jy ’n geloofstorie? Kontak ons gerus op [email protected] Kerkbode Kollig | ‘Die genade is altyd meer as die seer - klokslag’

  17. 46

    Episode 44 | Dr Barry Tolmay oor ’n teologie van ekologie - harmonie met God, mens en natuur

    Dr Barry Tolmay vertel vandat hy ‘n klein seuntjie was is die natuur vir hom die plek waar hy met God kon ontmoet. As voorsitter van die NG Kerk se nuwe Ekologietaakspan is sy visie dat hulle groen voetspoor in gemeentes oral in die land sigbaar sal word oor die volgende drie jaar. So vertel hy vir Heléne Meissenheimer tydens die span se eerste bymekaarkom in Mei 2025 op die Dolfynkus naby Durban. Lees meer: https://kerkbode.christians.co.za/2025/05/30/ekologietaakspan-spring-by-die-diepkant-in-werk-om-groen-spiritualiteit-te-laat-vloei-deur-die-kerk/ Kyk: https://youtu.be/2C_RjweMShA?si=Qi3PtijmIcyndMCq

  18. 45

    Episode 43 | 'Afrikaners' as slagoffers - Hoe praat ons daaroor?

    Hoe praat ons oor slagofferskap binne die konteks dat (net wit?) Afrikaanse boere (?) vir vlugtelingstatus mag aansoek doen by die VSA? In ’n tyd waarin wyd oor hierdie sensitiewe, komplekse en kontroversiële kwessie gepraat word, nooi Kerkbode vir ’n veelvlakkige gesprek hieroor die ervare kerkjoernalis en skrywer Neels Jackson asook Oos-Kaapse kerkleier, ds Danie Mouton, wat ook by interessante inisiatiewe betrokke is wat versoening en samewerking oor ras- en kerkgrense bevorder. Ons kyk na hoe ons praat oor die mense wat wel vlugtelingstatus ontvang sowel as die uitdagings wat dit skep vir gesprekke plaaslik. Soos Kerkbode se oud-redakteur noem, “aan die een kant het ons te doen met mense wat keuses gemaak het en wie se toekoms onseker is met wie Jesus ons leer om deernis te hê … aan die ander kant is daar ’n politieke spel waarin daar ’n klomp leuens vertel word en hierdie mense is daarin vasgevang”. Een van die vrae is of ons as burgers van die land nie almal op ’n manier slagoffers is nie? En ons hoor van die hoop wat stories vanuit die kerk kan bied wat vertel van koalisies wat gebou word en regkry om mense bymekaar te bring en saam hulle omgewing te verander.

  19. 44

    Episode 42 | Boeke, geloof en ’n prysfonds wat 'hulle net wyer wil span' - Bettina Wyngaard

    Die skrywer Bettina Wyngaard sê sy dink nie ’n mens kan die toekoms van Afrikaanse boeke in die breë skei van Afrikaanse boeke wat spesifiek oor geloof en teologie gaan nie. “Ek dink nie in dit wat ons lees, moet ons noodwendig ’n onderskeid maak tussen geloofsboeke en ‘ander boeke’ nie,” sê die Anglikaanse nuwe voorsitter van die Andrew Murray Desmond Tutu-prysfonds. Heléne Meissenheimer gesels met haar oor temas soos versoening, geregtigheid en haar hoop dat die prysfonds al meer beweeg weg van “die een is NG en daai een is Anglikaan … maar dat ons onsself net as ’n groep gelowiges sien wat probeer om gehalte Christelike teologiese literatuur hoofstroom te maak”. Ons praat ook oor boeke wat vrae vra oor God en geloof. Vir haar is die Bybel ’n rigtingwyser, sê Bettina, maar voeg by, “as ons nie behoorlik aandag gee aan die vrae wat gevra word nie, dan dink ek is ons besig om ons eie Christenskap in ’n boksie te sit … ek glo dit en ek het dit nog altyd geglo, Jesus aan die kruis is groter as enige vraag wat enigeen van ons kan vra”. Lees ook meer oor vanjaar se pryswenners hier: https://kerkbode.christians.co.za/2025/04/29/cas-vos-wen-andrew-murray-prys-ander-wenners-vir-2025-bekend/

  20. 43

    Episode 40 | Gemeentes met gebroke verhale van hoop – Dr Marelize Maritz

    Hoe lyk ’n gemeente wat kwalifiseer as ’n “baken” vir die toekoms van die NG Kerk? Só ’n gemeente se storie is dikwels vol gebrokenheid, maar hulle verhaal van aanpas by veranderde omstandighede skets ’n prentjie van hoop. Só vertel dr Marelize Maritz, ’n akademiese navorser van die Vrystaat wat spesialiseer in praktiese en missionale teologie. Sy is mederedakteur van die boek, Bakengemeentes: Nagedink oor roeping en getrouheid. Dit is ’n nuwe boek wat die stories van 26 sulke gemeentes bevat, sowel as insigte uit die Kerkspieël- en Predikantepaneel-vraelyste. Maritz vertel hierdie boek, wat ’n hele hoofstuk oor roeping insluit, is bedoel as ’n praktiese gids vir mense wat beleef dat die kerk, soos sy dit stel, “op ’n vasloopplek is of wat dalk dink ons gaan nie meer bestaan nie, dat die NG Kerk se tyd verby is in Suid-Afrika”. Die boek is beskikbaar by CLF. Meer oor die boek: Die werk sluit kwalitatiewe en kwantitatiewe empiriese data in, versamel deur die NG Kerk se Algemene Taakspan Navorsing, en staan in gesprek met die 2030-droomscenario wat na afloop van die Algemene Sinode van 2019 geformuleer is. Bron: CLF.

  21. 42

    Episode 39 | Hoe praat ons oor slagofferskap?

    Hoekom hoor ’n mens by soveel wit Afrikaanse mense dat hulle ’n gevoel van slagofferskap ervaar? En hoe praat ons hieroor? In ’n tyd wat vele komplekse gesprekke oor hierdie tema in ons land gevoer word, nooi Heléne Meissenheimer twee NG predikante in vir ’n gesprek in dié aflewering van Kerkbode se podsending, Kollig. Die skrywer en predikant Schalk van Heerden van Fontainebleau Gemeenskapskerk is medestigter en voorsitter van die liefdadigheidsorganisasie Betereinders. Hulle is bekend vir projekte wat poog om inklusief mense vanuit verskillende kulture bymekaar uit te bring – soos die onlangse braai in Februarie waar hulle die ‘Not USA but you, SA’-veldtog bekend gestel het. Ivor Swartz is predikant by die Oosterlig-gemeente in Pretoria en is die bekroonde skrywer van boeke soos Die verlore seun vannie Gaatjie en Nogtans geloof. Luister gerus saam na hierdie gesprek wat draai by rugbykwotas, Afrikaners se pioniersgees en Bloedrivier, asook ’n Katolieke teologiese term “ordo amoris”, wat beteken ‘rangorde van liefde’ aan die hand waarvan gevra word wat die Bybel sê oor wie jy moet liefhê. Volg gerus die skakel om die video op YouTube te kyk: https://youtu.be/SkQiaNpdP0w

  22. 41

    Episode 38 | Polarisasie, Trump en openbare getuienis

    Polarisasie oor onlangse wêreldgebeure en die openbare getuienis van die NG Kerk is van die onderwerpe wat hanteer word tydens hierdie onderhoudende paneelgesprek. Ds Jan Lubbe en nog twee gaste, die historikus dr Lindie Koorts en ds Anandie Greyling, voorsitter van ’n kerklike taakspan met die naam “Miga 6:8 – Versoening en Geregtigheid” sluit hiervoor aan by Kollig-aanbieder, Heléne Meissenheimer. Lubbe praat ondermeer oor die pastorale brief (lees meer via webskakel onder) wat die dagbestuur van die moderamen van die Algemene Sinode vandeesmaand aan gemeentes gestuur het. Hy het gesê dié skrywe kom weens ’n besorgdheid oor wat wêreldwyd gebeur, maar ook in ons land en die effek daarvan asook hoe daarop gereageer word. Greyling vertel meer oor waarmee hierdie taakspan besig is terwyl dr Koorts, in die lig van die oorspoel van onlangse gebeure in die VSA na Suid-Afrika, die konteks skets van twee lande se groepe geloofsgemeenskappe en wat hulle met mekaar in gemeen het. Geen geloofsgemeenskap staan in isolasie nie, het sy gesê. “So jy sien al meer dat Suid-Afrikaanse Christene hulle begin vereenselwig met Christene in die VSA, maar baie bepaalde groeperinge en dat dit deurspoel na al ons gemeentes toe,” het Koorts, lektor by die Universiteit van Pretoria, uitgebrei. Webskakel: https://kerkbode.christians.co.za/2025/02/14/pastorale-brief-februarie-2025-ons-skryf-uit-%ca%bcn-diepe-besorgdheid-aan-julle-met-%ca%bcn-hartsgebed-dat-god-hom-oor-ons-almal-sal-ontferm/

  23. 40

    Episode 37 | Die belydenis van Nicea - die kerkbelydenis wat ‘almal vir 1 700 jaar saam bely’

    Toe hy grootgeword het, het hy gedink Christene is Afrikaanse mense soos hy, want hy het nie baie kontak met ander mense gehad nie. Mettertyd het hy egter verstaan dat daar ander mense is wat die Here net so lief het soos hy, maar dalk op ’n ander manier. So vertel dr Leon Foot van die NG Kerk in die Vrystaat. Helene Meissenheimer hoor by hom hy hoop die Belydenis van Nicea, een van die vroegste Christelike geloofsbelydenisskrifte, kan die hedendaagse kerk help. Hy sê daar is geen ander belydenis wat so ekumenies is soos hierdie een wat verklaar Jesus is die “eniggebore Seun van God … God uit God, Lig uit Lig” nie. “Dit is die een belydenis wat ons almal saam bely,” vertel hy oor hierdie belangrike kerklike geskrif wat vanjaar presies 1700 jaar terug opgestel en aanvaar is.

  24. 39

    Episode 36 | ‘Ons is verslaaf aan besig wees’ - Ronell Bezuidenhout

    Agt jaar terug het die skrywer dr Ronell Bezuidenhout die besige lewe van ’n stadspredikant agtergelaat. Met demissiestatus onder die arm het sy na haar ouers op Groot Brakrivier se strandhuis gekom vir wat sy gehoop het is ’n sabbatsjaar. Een met tyd vir skryf en skilder. Toe verloop dinge anders … Haar bejaarde ouers het haar sorg nodig gehad. Sy het besef sy sal moet maniere vind vir ’n volhoubare inkomste. Vandag is sy onder meer ’n deeltydse Lutherse pastor, retraiteleier en hou ’n suksesvolle aanlynbediening aan die gang wat maandeliks tot 40 000 mense bereik. In kort, haar program is net so besig as wat dit in Johannesburg was. Dit het haar laat besef dit is nie die plek waar ons bly wat ons lewe besig maak nie, dit het te doen met ons menswees. “Ons is verslaaf aan besig wees,” sê sy in ons Kollig-gesprek vir Januarie. Aan die hand van haar boek, Woestynwysheid: Antieke riglyne vir toekomsgerigte mense praat ons oor die moderne mens se behoefte aan stilte, afsondering en eenvoud. Die boek is onlangs herdruk deur CLF. Geniet jy om na Kollig te luister? Jy kan hierdie projek se volhoubaarheid ondersteun deur 'n Vriend van Kerkbode te word. Vir hoe, klik net op die webskakel. Vriende van Kerkbode · CLF se aanlynboekwinkel

  25. 38

    Episode 35 | 'Skielik stap jy uit met ’n ‘ons’ storie’ - Dr Braam Hanekom oor 100DorpeDialoog

    Trauma, bitterheid en seer onverwerkte gevoelens lê onder die vernis van elke gemeenskap in Suid-Afrika. Dan gebeur daar ’n insident, soos gebeur het in Senekal in 2020, en bars die hele ding uit. Dit is een van die grootste lesse wat hy geleer het met die 100DorpeDialoog-inisiatief, vertel dr Braam Hanekom, direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis, ’n projek van Getuienisaksie. Hy vertel hierdie inisiatief met die doel om sosiale kohesie, soos hy dit verwoord “menskapitaal”, te bou het hom en sy span in die laaste sowat ses jaar geneem na meer as 70, selfs dalk soveel as 80 dorpe en gemeenskappe. Van Stellenbosch tot Atlantis. Van Graaff-Reinet tot Van Wyksvlei en selfs sover as die myngemeenskap van Witbank (eMalahleni deesdae) op die Hoëveld van Mpumalanga. Daar was ook al drie streeksdialoë in samewerking met die Duitse Konrad-Adenauer-Stiftung. Dié projek het vir hom gewys watter mooi stories kan begin ontvou wanneer mense van ’n gemeenskap, wat nie met mekaar praat nie, vir een dag of aand ’n kamer deel en begin praat oor uitdagings wat almal raak en hoe hulle dit saam kan aanpak. 100 Dorpe Dialoog bring gemeenskap byeen in Beaufort-Wes

  26. 37

    Episode 34 | ‘My eie ma het my nie herken nie … ’ - Johnny Davids

    Toe Johnny Davids as jong man sy ma en ouma gaan op soek het op die Kaapse Vlakte na hy jare tevore as seuntjie van daar af weggeloop het, het sy ma hom nie herken nie. “Dit het baie seer gemaak,” vertel dié Kwêla-programaanbieder, SuperSport-omroeper en gospelsanger wat vir die eerste keer oor sy moeilike grootwordjare saam met sy dowe arm ouma oopmaak in sy biografiese boek, Boytjie. Dié naam het hy gehaat skryf hy in sy boek, maar soos hy sing in sy nuwe Gospellied, Nuwe naam, hy leef met ’n nuwe naam sedert daardie middag wat hy glo die Heilige Gees hom aangepor het om weg te hardloop van hierdie hartseer lewe en hy gekies het om te luister. Lees meer: https://lig.co.za/uittreksel-moekie-jy-het-my-weggegooi-maar-ek-vergewe-jou/?fbclid=IwY2xjawG6jN1leHRuA2FlbQIxMQABHU_J1EOZfQ59A2DzrabCxrIL8KTkOWiJOwRisWULtgNCuFLr2O56MER_2w_aem_ZgHUEOcY8a-NpMvVE1Clng

  27. 36

    Episode 33 – ‘Dit gaan dieper as wat jy van buite sien …’ – maatskaplike werker vertel oor werk met haweloses

    Dit is die verskil wat sy in hulle oë sien. Die hartseer, selfs leë, oë wat lewe kry. Dit is wat maak dat sy bly. So vertel Ntateng Poni, ’n maatskaplike werker by ’n ‘safe space’ van MES. Hier werk sy saam met ’n span kundiges wat hawelose mense wil help om weer hulle menswaardigheid te vind. Sy vertel hoe nou probleme met geestesgesondheid loop met hierdie dikwels tydsame helingsproses. Die werk, wat sy saam met ’n span kundiges aanpak, stel groot uitdagings, maar, sê sy, as hulle dit nie doen nie, wie sal? Kollig se podsending met Poni volg op ons vorige gesprek met Elise Felton, ’n inwoner en deelnemer van MES se 4-stapprogram. Luister gerus daarna. LAAS WEEK SE EPISODE: https://iono.fm/e/1489150

  28. 35

    Episode 32 | ‘Ek het amper doodgegaan …' – vrou wat sewe jaar op straat geleef het, vertel

    “Die mens wat ek nou in die spieël sien, is nie dieselfde mens voor ek dwelms begin gebruik het nie … maar ek glo dit is God wat my geplaas het waar ek nou is,” vertel Elize Felton (47) wat tot so onlangs as ’n paar maande terug nog gebly het in ’n hokkie onder ’n brug in Bellville in die Kaap. Haar blyplek vir sewe jaar na slegte goed in haar lewe gebeur het en haar huwelik uitmekaar geval het. Dit het gevat dat sy amper doodgegaan het voor sy hulp gaan soek het en so uitgekom het by MES se Safe Space in Durbanville, ’n plek wat mense soos sy help om hulle menswaardigheid terug te vind. 10 Oktober is Wêreldgeestesgesondheidsdag én Wêreldhaweloosheidsdag. Daarom is hierdie die eerste van twee onderhoude wat Kollig dié maand by MES gedoen het. Luister gerus ook volgende week na die opvolggesprek met ’n maatskaplike werker wat meer vertel oor die sielkundige skade wat mense opdoen wat jare lank op straat lewe. Meer oor die krisis rondom haweloosheid en hoe MES en ander wil help

  29. 34

    Episode 31 | Oud-polisievrou vertel haar storie tot op die kansel

    Thea Wait was vir 26 jaar ’n administratiewe klerk in die polisie en dolgelukkig in haar werk. Vandag is sy skriba en koster van die enigste NG gemeente op die Karoodorp Tarkastad. Hierdie eens skaam ma van twee tienerseuns is ook besig met verdere teologiese studie om predikant te word. Sy vertel meer oor hierdie geloofsreis wat sy nooit sien kom het nie. ‘Ek was ’n agterbanker in die kerk …’ Oud-polisievrou wat nou op die kansel staan vertel haar storie

  30. 33

    Episode 30 | ‘Die Bybel is vir my ’n genadeboek’

    Die biblioteek van geskrifte wat ons ken as die Bybel is na 2000 jaar steeds ’n boek wat mense wil lees. Is dit vreemd? Nee, hy dink nie dit is vreemd nie. Die Bybel is ’n boek vir alle tye. Alle geleenthede. Maar dit is ’n Boek wat mens verantwoordelik wil lees. So vertel die bekende predikant en skrywer, Barend Vos. Vir hom sê hy is die Bybel ’n lig op sy pad. ’n Genadeboek. Hy het pas klaar gemaak as dagstukskrywer vir agt uitgawes van Afrikaans se oudste Bybelleesgids, Uit die Beek.

  31. 32

    Episode 29 | 'Jy moes 'n testament opstel ... op ouderdom 18' - Bun Booyens oor diensplig

    "Ek dink daar is baie mense wat afsluiting soek," sê Bun Booyens in 'n onderhoud vir dié Kollig-episode oor sy nuwe boek TROEP, wat eersdaags by Penguin verskyn.  Booyens het uiteenlopende vertellings ná gesprekke met meer as 100 oud-dienspligtiges opgeteken en georden.  Só klink van die temas:  INKLAAR – My ma was banger as ek  ’N KAPELAAN ONTHOU – Genade tussen die ongenade  PT – Julle wil mos nie saamwerk nie  LANDMYN – Die duiwel se niggie  HOM ONTHOU EK – ’n Bruin soldaat in ’n wit basis  SOLDATETAAL – Woorde, frases en afkortings  STERFTES – 23 jaar, 6 maande, 3 weke en 2 dae Bronne verskil oor hoeveel mense in die Grensoorlog gesterf het, verduidelik Booyens. Die SA Militêre Veterane-organisasie Internasionaal bereken die sterftesyfer vir die tydperk 26 Augustus 1966 tot 21 Maart 1990 as volg: Totale aantal sterfgevalle 2 573. Sowat 30% sneuwel in aktiewe diens terwyl ander oorsake goed soos vliegongelukke en vernaam motorongelukke insluit.  "Ek dink wat mense se geloofsbelewenis verander het in die weermag, was die tyd toe jou lewe veronderstel was om in alle rigtings oop te vou en te navigeer volgens jou eie keuses, was jy daar in 'n situasie waar jy na die dood moes kyk. Jy moes 'n testament opstel op ouderdom 18 ... En jy het 'n dog tag gehad om jou nek: Nommer, rang, naam, bloedgroep. En kerkverband."

  32. 31

    Episode 28 | ‘Ek ervaar God in die natuur’

    So sê langafstandatleet ds Alex Clark van die NG Gemeente Op-die-berg in Ceres. Ek gesels met hom en Kerkbode se redakteur, Le Roux Schoeman, oor hulle deelname aan ’n langasemprojek deur die Karoo wat hulle in die winter aangepak het om Kerkbode se 175ste bestaansjaar te vier. Kliek, luister en ondersteun ons hier: https://kerkbode.christians.co.za/article/werwingsprojek-ons-benodig-sowat-r25-000/

  33. 30

    Episode 27 | ‘Ons sal mekaar waarskynlik nie oortuig nie’ – Frits Gaum

    Dr Frits Gaum, die prominentste lid van die groep lidmate wat die NG Kerk in 2017 hof toe gevat het, praat met Kerkbode oor die kerk, die hof en die kanker wat by hom gediagnoseer is. Die 84-jarige afgetrede dominee, wat Kerkbode in sy termyn as redakteur tot nuwe sirkulasiehoogtes geneem het, het met Le Roux Schoeman gepraat en ons speel ’n uittreksel uit hulle gesprek as hierdie week se aflewering van Kollig. Lekker luister.

  34. 29

    Episode 26 | Jaco Strydom - Stories, nagstukkies en doegongs

    Hy is al lankal gefassineer deur die doegong, ’n rare en misterieuse seedier van die Ooskus van Afrika. So vertel predikant en skrywer Jaco Strydom wat pas sy eerste storieboek, Daka, gepubliseer het. Hy het hierdie soogdier, wat verbind word met die legendes oor meerminne, ingebring as ’n mistieke element in sy fiksiedebuut, vertel die NG dominee wat reeds verskeie geestelike boeke agter sy naam het. Dit is ook ’n eerlike boek van ’n ou se worsteling wat deur ’n baie moeilike tyd gaan. So vertel hierdie skrywer wat glo stories help ons om goed raak te sien en dat die Christelike lektuur kan doen met meer honesty soos wat ’n mens kry in die Bybel. Meer “nagstukkies” saam met al die dagstukkies.

  35. 28

    Episode 25 | Dís hoekom die kerkargief jou storie soek

    Die NG Kerkargief op Stellenbosch is die grootste van sy soort bergplek vir die argivalia van die land se grootste en oudste Afrikaanse kerk. Argiefbestuurder dr Andrew Kok en sy span het in die afgelope sewe jaar ook geslaag om van hierdie instansie ’n publikasiehuis te maak. Die argief se boekereeks is een manier om die wonderlike bronne in hulle besit ontsluit sodat mense dit kan gebruik en dat dit in leketaal verstaanbaar is vir die gewone mens. Maar, geskrewe bronne is natuurlik nie al bron van kennis binne die kerk nie. Mondelinge geskiedenis is ook ’n baie belangrike deel van geskiedskrywing en dit beland nie altyd in die kerkargief nie. Daarom is projekte begin soos Learn from Leavers saam met Kerkbode asook kuierdae om ou foto’s uit die sendingveld om die kennis en stories te probeer verkry wat in mense se kop leef. NG Kerkargief

  36. 27

    Episode 24 | Oor roeping, seerkry en genade | DJ en Nadia Muller

    Die een het sy roeping gehoor onder ’n boom in Mosambiek. Die ander hare tydens ’n erediens in ’n kerkgebou. Na ’n paar interessante ompaaie het ds Nadia Muller haar man, DJ, onlangs as tentmakerleraar bevestig – boonop by die einste gemeente waar sy leraar is. DJ werk ook as inhoudskepper by Kaapkerk en neem troufoto’s en video’s terwyl Nadia ook netbal afrig. Hulle is ook die ouers van twee pragtige dogtertjies. Die twee besige mense vertel hulle storie. Van waar hulle ontmoet het as teologiese studente op die Universiteit van Pretoria se kampus. Getrou het en saam by hulle eerste gemeente op die Noord-Kaapse platteland begin bedien het. Hier was DJ die gemeenteleraar wat sy vrou as leraar bevestig het. In die tien jaar sedert toe en nou lê ’n hele stuk leef. Onder meer ’n worsteling met presies wat roeping vir hulle elkeen beteken en ’n dankbare hart vir genade.

  37. 26

    Episode 23 | ‘Die Bybel troos my’ | Blinde veeltalige afgetrede prokureur (76) vertel sy storie

    André Steyn van Worcester is blind gebore. Na hy sy regsgraad by Universiteit Stellenbosch verwerf het, het hy eers as advokaat en daarna vir baie jare as prokureur gepraktiseer. Hy vertel die Bybel was vir hom altyd ’n troos. Op 76 hou hierdie inwoner van die organisasie Innovation for the Blind homself deesdae veral besig met Bybelstudie. Sy een groot gemis al die jare was ’n Afrikaanse Bybel in brailleformaat met kantnota’s. Hy vertel dat hy van jongs af self wou lees wat in die Bybel staan (hy besit ’n Franse, Latynse en verskeie Afrikaanse vertalings van die Bybel). Daarom is hy so bly oor die 2020 Afrikaanse vertaling wat vir die eerste keer in brailleformaat ’n Afrikaanse Bybel bied met voetnota’s. Die volledige stel van die 2020 Afrikaanse Bybel in brailleformaat bestaan uit 67 volumes van 8 082 bladsye. Dié Bybel is gedruk deur Pionierdrukkery en deur die NG Kerk se Wes-Kaapse Moderamen en die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gefinansier. Bybelgenootskap van Suid-Afrika

  38. 25

    Episode 22 | Ma van twee vertel hoekom sy uithouwedlope doen vir goeie doel

    Sanja Steyn van Darling het Race4Grace begin omdat sy lief is vir hardloop en ’n hart het vir die kwesbare weeskinders van Zimbabwe. Die land waar haar ouers sendelinge was en sy grootgeword het. Na haar pa, ds Henry Murray, se dood in 2014, het sy besluit sy gaan met uithouwedlope fondse insamel vir die fonds wat haar ouers begin het om kinders wat swaarkry te help. Verlede jaar het sy met SkyRun 100, ’n deurnaghardloop van 100 km in die Drakensberge, R150 000 kon insamel vir die Henry Murray Gedenkfonds (kliek om meer oor hierdie fonds te lees op Getuienisaksie se webblad). Die fondse het dit vir 18 weeskinders moontlik gemaak om vanjaar te kon skoolgaan. Einde vanjaar maak sy weer so. Dié keer in Zimbabwe.

  39. 24

    Episode 21 | ‘As angs in jou lyf is’ – oor ’n projek gemik op klein kinders met groot emosies

    Adrie Jurgensen het dadelik aan hulle Engelse bulhond, Max gedink toe sy hoor dat haar werkplek ‘n nuwe projek soek. Dié projek moes jong kinders wat sukkel met boeliegedrag, angstigheid en trauma, help. Sy werk vir die organisasie 1000 Women Trust. Hulle fokus is op geslagsgebaseerde geweld. Hierdie ma van twee vertel hoe Max die inspirasie geword het vir die Max & Me: Paws and Peace Corners-projek wat op Mandeladag (18 Julie) van stapel gestuur is. Dit is in samewerking met nog twee organisasies, Badisa en Little Seeds VKO-eenheid, geloods. Lees ook meer oor die projek in Vrydagnuus, 12 Julie 2024.

  40. 23

    Episode 20 | ‘In my andersheid het God my geroep’: Farren Cloete oor dominee en jou eie mens wees

    Kerkbode Kollig het die pad gevat Weskus toe. Ons gesels met die flambojante jong dominee van die VGK-gemeente op Lambertsbaai. Farren Cloete. Haar “bediening” sluit ook in meer as 260 000 wat haar op TikTok volg. Sy is ’n anderster dominee, vertel hierdie gebore Namakwalander wat pas ’n boek uit het wat haar storie vertel, getitel Geroep vir ’n tyd soos hierdie.

  41. 22

    Episode 19: Oor balans vind met kinders se skermtyd en ‘n nuwe storiekanaal

    Kenners waarsku al meer dat skermtyd bestuur moet word met jong kinders. Dog mens kan vra of in ons skermgedrewe samelewing ’n mate van skermblootstelling nie onvermydelik geword het nie en in sulke gevalle, wat kan kinders kyk? Met juis hierdie vrae ingedagte het Maryke Hansen, ’n jong ma van twee begin droom oor ’n kanaal ‘met inhoud in Afrikaans met sterk Bybelse waardes waarna kinders, wanneer hulle dan nou wel skermtyd inkry, kan kyk’. Maar om tyd te kry in haar besige lewe om dit te laat realiseer verg toe blykbaar ’n “geforseerde rustyd”. Sy is die inhoudsvervaardiger van LiG en Bybel-Media se nuwe gratis Afrikaanse YouTube-kanaal, Ligland – Leef met lig, lag en liefde. Hulle eerste reeks van 12 animasie-Bybelverhale gerig op 0-3 jariges is pas bekendgestel. Sy vertel in hierdie podsending meer oor haar eie geloofstorie agter die skep van hierdie nuwe kinderstoriekanaal wat insluit ’n pynlike episode met ’n knie-operasie. Sy deel ook meer oor wat vir haar as oud-onderwyseres belangrik was in die skep van inhoud saam met ander kundiges soos predikante en onderwysers vir hierdie kanaal. Kliek hier om na die Ligland-kanaal te kyk: https://www.youtube.com/@ligland

  42. 21

    Episode 18: Dr Coenie Burger vertel meer oor sy eie geloofstorie en van sy nuwe boek

    Hy het min pak gekry, maar dit was die keer wat sy pa hom nie pak gegee het nie wat hom met ander oё na sy pa laat kyk het. Dat hy sy pa as mens begin raaksien het. Iets soortgelyk het oor jare met hom gebeur in sy verhouding met God en hoe hy oor God voel. ’n Ontdekking dat God hom liefhet en omgee en na hom wil luister. “Dit maak dat ek glo vandag,” vertel dr Coenie Burger wie se nuutste boek Verbind aan Christus: Om in vereniging met Christus te leef, pas verskyn het. Hy begin ons gesprek met ’n aanhaling uit sy boek deur die gereformeerde teoloog Johannes Calvyn: “For my own part, I am overwhelmed by the depth of this mystery, and am not ashamed to join Paul in acknowledging at once my ignorance and my admiration … whatever is supernatural is clearly beyond our own comprehension. Let us therefore labour more to feel Christ living in us, than to discover the nature of that intercourse.”

  43. 20

    Episode 17: Jeug-tot-jeugaksie wou jongmense inspireer oor Jesus

    Hy dink die NG Kerk is ryker as 50 jaar gelede. En hy dink die kerk sien groter prentjies raak, maar die Jeug tot Jeugaksie van 1974 was verbeeldingryk vir sy tyd. So meen prof Malan Nel wat onlangs saam met so 18 van die oorspronklike leierskapgroep reünie gehou het in die Vrystaat om die 50ste herdenking te vier van hierdie inisiatief wat die bedieningsfilosofie wou vestig dat jongmense toegerus moet word om met jongmense te werk. Dit is genoem die evangelisasiejaar van die kerk. Die leuse was ‘Lewe vir Christus en vir Sy kerk’. “Daai embleem het die land beinvloed. Die hele land het ingekoop in die aksie,” so onthou hy op 85 helder die gebeure rondom hierdie projek wat die Elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE) omskryf as “een van die merkwaardigste uitreike van die NG Kerk in die 20ste eeu na die jeug”. Die inisiatief onthou Nel as die waar word van ’n droom van ds Mike Smuts wat later hoof geword het van die Christen Studentevereniging (CSV), later Verenigende Christenstudentevereniging (VCSV). Sowat 32 000 jongmense is opgelei om met hulle portuurgroep oor die evangelie en geloofsake te praat. Meer as 350 000 jongmense was by die saamtrekke wat in drie lande gehou is in skole, stadsale en op sportstadions. Die aksie het, volgens eCK, “by baie jongmense tot nuwe entoesiasme vir die kerk gelei en groot getalle het hulle ná 1974 aangemeld vir teologiese studie”.

  44. 19

    Episode 16 – ‘Gee aandag al raak ’n mens soms vuisvoos’ – Lizelle de Bruin oor groen stories en hoekom dit belangrik is

    Voor die NG Moedergemeente op George was ’n groot eikeboom. Toe word dit afgekap na ’n kewer die dorp se akkerbome besmet het. Vandag groei op dieselfde plek ’n paar jong eikeboompies wat van hierdie boom se akkers gekweek is. Dit is vir haar ’n ongelooflike storie van hoop, vertel Lizelle de Bruin, vanjaar die ontvanger van die Andrew Murray-Prysfonds se Elise Tempelhoff-toekenning vir Omgewingsbewaring en geregtigheid. Op RSG se webblad word hieroor so berig: “In die motivering vir die toekenning, word gesê dat sy as ervare radioregisseur, omroeper en direkteur van Wordwise Media al jare lank ’n uitsonderlike toewyding toon om omgewingsbewustheid te bevorder”. “’n Mens raak soms vuisvoos maar jy moet aandag gee,” hoor Kerkbode by Lizelle. Sy vertel ook van die praktiese, selfs pretmaniere, hoe sy omgewingsbewustheid deel van haar lewe maak en deel ’n paar van haar gunsteling groen stories.

  45. 18

    Episode 15: ‘Ek wil dieselfde liefde in hierdie tieners belê as in ons seun wat op 21 dood is’

    Elaine Pienaar en haar predikantman het ’n seun verloor op 21. Sy vertel sy voel die Here gee vir haar, deur haar werk as maatskaplike werker by die Christelike organisasie, Wildernis Therapy Namibia, ’n kans om dieselfde liefde en omgee te belê in hierdie tieners as in haar seun. Sy het gevoel haar lewe het ’n pragtige vol sirkel geloop toe sy vanjaar as ervare maatskaplike werker kon inskakel by hierdie alternatiewe terapie- en mentorprogram wat vanuit die NG Kerk in Namibië ontstaan het met die doel om jongmense op avontuurstaptogte te vat en daarna deur mentorskapprogramme by hulle betrokke te bly. Tydens Kerkbode se onlangse storietoer het ons die span ontmoet wat ons meer vertel het van wat hulle doen. Tussendeur het Elaine haar mooi storie gedeel. 

  46. 17

    Episode 14: ‘Oom dominee Freddie’ gryp op 84 die kans om sy roeping uit te leef

    Kerkbode het vandeesweek gesels met ’n afgetrede boer Freddie Faul wat in Februarie as standplaasleraar bevestig is by die NG Gemeente Mariental in Namibiё. Dit gebeur tydens ons storietoer in die maand van Mei deur hierdie land wat die kleinste-in-lidmaattal-en-grootste-in-grondgebied-streeksinode van die NGK se “tien samestellende kerke” het. Kyk ook gerus hierdie video: https://youtu.be/JoYCvh7macw?si=4nB7vftiJPK02_0y

  47. 16

    Episode 13: Twee stories: Gesonde baba na kankerdiagnose + hoe kies jy vir wie om te stem?

    Ds Arina Zandberg van Kimberley was skaars twee maande swanger toe sy en haar man Dirk die skoknuus kry dat sy Hodgkins-limfoon het. Dit is ’n kanker wat die limfklierstelsel aanval wat deel vorm van jou liggaam se immuunstelsel. Hulle eerste gedagte was dat hulle die baba gaan verloor, maar in April vanjaar is klein Jana gebore. ‘n Gesonde baba van 3.1kg. Kerkbode het Arina gevra om hulle storie met Kollig te deel. Maar voor ons by daardie insetsel kom, kyk ons na stemdag: 29 Mei. Wat bly oor van die optimisme wat vele ná 1994 verkiesing gekoester het? Het staatskaping, korrupsie, beurtkrag ons hoop vir die land gesteel? Prof Erwin Schwella is die direkteur van die Sentrum vir Goeie Regering in Afrika by die Hugenote Kollege op Wellington. Kerkbode het hom gevra: hoe kan mens as gelowige weet vir wie om te stem? Uiteindelik verwagtend…maar toe ook ’n kankerdiagnose

  48. 15

    Episode 12: Twee skrywervriende gesels oor nuwe boeke in Pinkstertyd

    Donderdag 9 Mei is Hemelvaart. Nou in verkiesingstyd in ons land wonder Cas Wepener hoeveel vernuwingswerk die Gees van God by hom kan bring as hy bereid is om te luister eerder as kla. So vertel hierdie Stellenbosse professor vir sy jarelange vriend, emeritus-prof Chris van der Merwe. Dié twee skrywers het elk ’n nuwe boek uit wat oor geloofstema’s handel. Aan die hand daarvan gesels die liturg en die letterkundige vrylik oor geloofstema’s wat struikelblokke kan wees. Tema’s soos genade en geregtigheid, woede, hemel en hel. Cas vertel ook van sy behoefte om elke dag tyd in te ruim vir dinge wat mag lyk na tydmors. Hy sê ons raak te besig. Ons het stilword nodig om ons te help om weer reg na die wêreld te kyk. Hiermee nooi ons jou uit om so 20 minute se “tydmors” te vat vir ’n luister of kyk na hierdie podsending vir Kerkbode Kollig (vervaardig in dankbare samewerking met Kaapkerk). Meer oor die boeke: Cas Wepener se boek, Die heiligheid van hier het onlangs by Bybelmedia verskyn met as subtitel: Ontdek die goddelike op onverwagte plekke. 50 essays vir alleen lees of saamlees. (https://www.bybelmedia.org.za/product/die-heiligheid-van-hier/) Chris van der Merwe se boek, Grenslose genade: ’n Moderne geloofsbelydenis, het ook in Mei verskyn en is te kry by Lapa Uitgewers. Dit is ook in Engels beskikbaar as Boundless Grace – A Modern Confession of Faith. (https://www.lapa.co.za/grenslose-genade) VIDEO: https://youtu.be/thaI3UuSSrg?si=_8lrgXD0RGw09ujo KOOP: Grenslose Genade · KOOP: Die Heiligheid van Hier · VIDEO: Podsending Opname

  49. 14

    Episode 11: 'n Verhaal van omkeer uit die Paarl

    Aletia Grundling vertel die verhaal van hoe sy en vroue soos Cathy Ross en Jenny Arendse met liefde en omgee vir bendekinders ‘n drama-en skryfskool kon begin. Sy is die hoof van Monte Christo Miqlat of MCM, ‘n NGO wat deur hulle veeldoelige sentrum al vir jare ‘n veilige tuiste bied vir voorskoolse klasse en ‘n naskool. Luister ook na die volledige onderhoud met Aletia Grundling op Klank Kompas: Ek en my mense. Die verhaal van hierdie drama- en skryfskool en die heling wat dit binne hierdie arm gemeenskap in Paarl-Oos gebring het is ook vervat as een van 12 gevallestudies in ‘n nuwe boek, Caribuntu: Social innovation in South Africa waarvan die sosiale innovasie-navorser, prof Erwin Schwella, die redakteur is. Meer oor Monte Christo Miqlat (MCM)

  50. 13

    Episode 10: Hoe moet lidmate ‘goedkoop versoening’ verstaan?

    Is verhoudings tussen wit en bruin en swart Christene in die banke van kerke soos die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) 30 jaar ná apartheid aan ’t versterk en verdiep? Is daar grondige versoening tussen rasse en op strukturele vlak binne die NG Kerk die soort “herstellende geregtigheid” waarvan teoloë praat? In hierdie Kollig-episode berig ons vanuit Durban oor ’n onlangse interkerklike konferensie wat die VGK aangebied het en waar rolspelers onder meer eenheid met die NG Kerk op insiggewende wyse bespreek het. Die vraag is: Werk gemeentes, in hierdie jaar wat die VGK sy 30ste bestaansjaar vier, aan kerkeenheid en is daar vooruitgang, stagnasie of terugval? Is daar hoegenaamd vordering as prof Leepo Modise verduidelik dat versoening sonder restitusie “goedkoop” is? En as ds Jan Lubbe toegee dat die NG Kerk tot ’n mate na “binne gedraai het” oor die afgelope paar jaar – ten koste van eenheid? Die Kollig-aanbieder Heléne Meissenheimer nooi ook vandeesweek die joernalis en Kerkbode-redakteur Le Roux Schoeman in na die virtuele ateljee om sy indrukke van die interaksie tussen leiers van die NG en VG Kerke te hoor.

Type above to search every episode's transcript for a word or phrase. Matches are scoped to this podcast.

Searching…

No matches for "" in this podcast's transcripts.

Showing of matches

No topics indexed yet for this podcast.

Loading reviews...

ABOUT THIS SHOW

Gereelde podcasts gevul met insetsels oor kerknuus, geloofstories en gesprekke om jou in te lig, laat nadink en inspireer. Kerkbode is die amptelike nuusblad van die NG Kerk.

HOSTED BY

Klank Kompas

CATEGORIES

URL copied to clipboard!