PODCAST · religion
Preek Opnames
by Simondium Familiekerk
Vind hier opnames van ons mees onlangse preke.
-
141
Reis deur Efesiërs - Deel 9 (Kinderdiens - 12 April 2026)
PREDIKER: Nadia Muller TEMA: Vol van Christus TEKS: Ef. 1:22-23 Laasweek het ons gevier dat die graf leeg was. Oral was daar leë paaseiers – en soms voel ons self ook ’n bietjie leeg. Maar Jesus leef, en ons is gevul met sy volheid. Wat beteken dit? Hoe lyk ons lewens dan? En hoe kyk ons nou na ander? Efesiërs leer ons dat Christus alles in almal vervul. Maar as dit waar is … hoe verander dit die manier waarop ons leef?
-
140
Opstandingsondag - 05 April 2026
Hierdie twee monoloë gee stemme aan Maria Magdalena en Thomas as mense wat eers stukkend en leeg by die opstanding aankom - sy met droeë oë, hy agter die deur van sy eie twyfel. In beide gevalle reageer Jesus nie met antwoorde of berisping nie, maar met Sy besondere teenwoordig-wees: Hy sê haar naam, Hy bied sy wonde aan vir Thomas se hande. Die sentrale boodskap is dat die opstanding nie pyn uitwis nie, maar dit opneem - en dat Jesus juis na die mense toe gaan wat te moeg of te eerlik is om sommer te glo.
-
139
Goeie Vrydag - 03 April 2026
Prediker: DJ Muller Ons verken die diepte van Jesus se eie emosionele en geestelike angs - van sy trane by Lasarus se graf, tot die bloedsweet in Getsemane, tot sy kreet van verlating aan die kruis - as bewys dat Hy nie net die menslike pyn van angs verstaan nie, maar dit self ten volle beleef het. Die sentrale argument is dat Jesus in elke moment van krisis nie eers antwoorde gee of omstandighede verander nie, maar eerste in verhouding tree - Hy vra, Hy luister, Hy huil saam.
-
138
Reis deur Efesiërs - Deel 8 (22 Maart 2026)
PREDIKER: Nadia Muller TEKS: Efesiërs 1:18–20 TEMA: Wonderlike Erfenis Paulus praat van ’n wonderlike erfenis vir die heiliges. Maar wat beteken dit op aarde? Wie is die heiliges? Wat is hierdie erfenis? En wie is die God wat dit gee? Ons dink dikwels aan erfenis as iets wat jy eers ontvang wanneer iemand sterf. Maar Paulus se verstaan van erfenis is anders – groter, ryker, en reeds aan die gebeur. As hierdie erfenis reeds deel is van ons lewe in Christus … hoe verander dit die manier waarop ons vandag leef?
-
137
Reis deur Efesiërs - Deel 7 (15 Maart 2026)
PREDIKER: Nadia Muller TEKS: Efesiërs 1:18–19 TEMA: Hoop Paulus bid dat gelowiges God werklik sal leer ken – want wanneer ons Hom ken, begin ons ook die hoop van ons roeping raaksien. Maar hierdie hoop is nie wensdenkery nie. Dit is nie net ’n vae droom oor eendag nie. Dit is ’n seker hoop – iets wat reeds begin het. En as God se nuwe skepping reeds begin het… hoe behoort ons dan vandag te leef?
-
136
Reis deur Efesiërs - Deel 6 (08 Maart 2026)
PREDIKER: Nadia Muller TEKS: Efesiërs 1:15–23 (fokus op v.15–19) TEMA: Om vir mekaar te bid Een van die mooiste dinge wat Paulus in sy briewe doen, is om vir mense te sê: Ek bid vir julle – en hy sê selfs waarvoor hy bid. Dit laat ’n belangrike vraag: Hoe bid ons vir mekaar? Bid ons net dat mekaar se probleme sal verdwyn, of bid ons – soos Paulus – dat God ons oë sal oopmaak om Hom te sien? Die grootste geskenk wat ons vir mekaar kan gee, is nie om mekaar se probleme op te los nie, maar om vir mekaar te bid dat ons God beter sal leer ken. Om God te sien, is om Hom beter te ken. En om Hom beter te ken, is om te begin leef as ’n “working model of God’s new creation.”
-
135
Reis deur Efesiërs - Deel 5 (01 Maart 2026)
PREDIKER: DJ Muller TEKS: Efesiërs 1:3–14 Wat as jy van môre af anders na jou eie lewe kyk? Wat as jy ontdek dat jy nie toevallig hier is nie – nie maar net nóg ’n naam op ’n lidmaatlys nie – maar deel van ’n groter, goddelike ontwerp wat reeds voor die grondlegging van die wêreld begin het? Wat as die Vader se wil, die Seun se werk en die Gees se teenwoordigheid nie bloot abstrakte teologie is nie, maar die asem van jou alledaagse bestaan? En wat as die kerk nie ’n plek is om vir die wêreld weg te kruip nie, maar ’n kruispunt waar hemel en aarde mekaar raak?
-
134
Reis deur Efesiërs - Deel 4 (22 Februarie 2026)
PREDIKER: Nadia Muller TEKS: Efesiërs 1:3–14 Wat as jy nie net wag vir eendag se aankoms in die hemel nie, maar reeds nou leef uit ’n oorwinning wat klaar behaal is? In Efesiërs 1:3–14 ontdek ons iets wat jou kop dalk effens laat kantel: jy is reeds geseën met elke geestelike seën. Hoe lyk dit wanneer gewone mense – in ’n gebroke wêreld vol pyn en chaos – begin leef as tekens van God se nuwe skepping?
-
133
Reis deur Efesiërs - Deel 3 (15 Februarie 2026)
PREDIKER: Nadia Muller TEKS: Efesiërs 1:3–14 TEMA: Uitroep van Lof! Die lied waarna Nadia verwys: https://www.youtube.com/watch?v=8T2zPTpEiT8 AI-prentjies van mense doen tans oral die rondte – karikature van regte mense, maar tog nie heeltemal nie. Minder plooie en grys hare, sagter, vriendeliker en meer opwindend. Dis mos wat almal wil sien? Intussen is daar donker kolle en spinnerakke in ons hartskamers. Ons vergelyk onsself met sogenaamde perfekte prente van ander en begin al hoe minder van onsself hou. Tot ons Efesiërs lees en besef: God het ons gemaak, en ons identiteit lê in Hom. Die rede tot lof is juis dat Hy ons gemaak, ons gekies en ons liefgekry het – nie net ons sosiale media-statusse nie, maar die oorspronklike ons. Die lied waarna Nadia verwys:
-
132
Reis deur Efesiërs - Deel 2 (08 Februarie 2026)
PREDIKER: Nadia Muller TEKS: Efesiërs 1:1–2 en 6:21–24 TEMA: Die kerk se roeping Nota: Net voor die preek is Isabella Pollard gedoop. Nadia verwys een of twee keer ook na die doop in die preek. Wanneer daar in die kerk oor roeping gepraat word, dink baie van ons dadelik aan individuele roeping: waarvoor is ek geroep, en hoekom is ek op aarde? Paulus probeer egter juis in Efesiërs wys dat daar ’n baie dieper en belangriker roeping is – die universele roeping van die kerk. Hierdie roeping behoort ook die vertrekpunt van ons persoonlike roeping te wees. In die Bybel word ons name nêrens met ’n spesifieke opdrag verbind nie. Wat Paulus wel duidelik maak, is dat die genade, vrede en liefde wat ons by God in Christus ontvang het, ook geleef moet word. Dít is ons roeping. Nie in die eerste plek om sendeling, dokter, prokureur of huisvrou te wees nie; nie besigheidsmens of boer, kunstenaar of rekenmeester nie – maar om heiliges te wees, gelowiges in Christus. Dit beteken om God se vrede, genade en liefde sigbaar te maak in die wêreld.
-
131
Reis deur Efesiërs - Deel 1 (01 Februarie 2026)
PREDIKER: Nadia Muller TEKS: Efesiërs Vir die volgende ruk gaan ons saam uit die boek Efesiërs preek en nadink. Hierdie Sondag se erediens is ’n inleidende diens waarin ons kyk na die struktuur van Efesiërs, asook die skrywer en eerste lesers van die brief. Ons staan ook stil by belangrike temas soos: • Wie God vir Paulus is in Efesiërs • Wat ons leer oor verlossing, eenheid en heiligheid • Efesiërs se antwoord op die vraag: Wie is die kerk, en hoekom is ons hier? Efesiërs is ’n boek waaruit baie van ons een of twee bekende verse kan aanhaal, maar die krag van Efesiërs lê juis in die geheel. (Ons sal deurlopend verwys na die boek van Tom Wright, The Vision of Ephesians: The Task of the Church and the Glory of God.)
-
130
Kinderdiens - 25 Januarie 2026
Prediker: Nadia Muller Teks: Markus 3:13-19 Tema: Het Jesus ’n bynaam vir jóú? Net soos met Jesus se dissipels, roep Hy elkeen van ons ook op die naam. Hy ken ons en wil ons gebruik. Hy nooi ons om saam met Hom aan tafel te sit – aan die nagmaalstafel – en werklik tuis te voel. Hoe voel dit om só geroep te word? En dink ’n bietjie hieroor: wanneer Jesus byname aan sy dissipels gegee het, was dit nooit om hulle af te kraak nie, maar om iets van hul menswees en roeping te openbaar. Wat dink jy sou Sy bynaam vir jóú gewees het?
-
129
Erediens - 18 Januarie 2026
Prediker: DJ Muller Teks: Verskeie Tema: Waardes vir die kerk én die lewe Eenvoud, egtheid, inklusiwiteit en diensbaarheid is ons gemeente se waardes. Dit vind duidelik neerslag in hoe ons gemeente-dinge doen, maar wat as hierdie waardes ook in jou lewe by die huis en werk as rigtinggewers dien? Het Jesus ook hierdie waardes modelleer tydens Sy lewe op aarde?
-
128
Hervormingsdiens - 26 Oktober 2025
Prediker: DJ Muller Teks: Lukas 18:9–14 Op verskillende vlakke is ons as gelowiges geanker in iets wat standvastig is. Ons protestante kerktradisie is byvoorbeeld een so anker. Ons vier vandag onder andere hierdie anker, maar ons gaan ook soek na die grootste anker waarsonder ons vir seker nie kan oorleef nie: Genade! Maar hoe gaan ons om met genade? Daar is een van drie maniere hoe ons hieroor dink. Waar pas jy in?
-
127
Kinderdiens - 19 Oktober 2025
Prediker: Nadia Muller Teks: 2 Timoteus 3:14–17 Paulus herinner ons hoe kosbaar en lewensnoodsaaklik die Woord van God is. Die Bybel is nie net ’n boek vol reëls of stories nie – dit is God se lewende stem wat ons lei, leer en versterk. Hoe lees jy die Bybel? Net af en toe, of met ’n oop hart om werklik meer van God te leer ken en te groei as mens? Kom hoor Sondag hoe Paulus ons uitnooi om die Woord met nuwe oë te lees – as bron van krag, wysheid en lewe.
-
126
Erediens - 12 Oktober 2025
Prediker: DJ Muller Teks: Lukas 17:11–19 Tema: Jesus “on demand” Tien siekes word in ’n oomblik genees - maar net een van hulle snap wat regtig gebeur. Is hierdie tendens vandag nog waar? Draai ons na Jesus net wanneer ons Hom nodig het? ’n Verhouding met die enigste ware God kan mos nie net gebasseer wees op ’n ekonomie van “wat ek soek en wat ek in ruil daarvoor gee” nie. Ons kyk môre onder andere na “Kat en Hond Teologie”, die invloed van ’n verbruikersmentaliteit op ons geloof, en trek selfs die onlangse brief van die Gereformeerde Kerk in Nelspruit aan ’n onbetrokke lidmaat nader.
-
125
Erediens - 05 Oktober 2025
PREDIKER: Nicolette Bester TEKS: 2 Timoteus 1:1-14 TEMA: Die roeping geskenk in jou hart en menswees In 2 Timoteus 1:9 lees ons: “Hy het ons verlos en geroep met ’n heilige roeping – nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en genade. Reeds van ewigheid af is dit in Christus Jesus aan ons geskenk.” (2020-vertaling) God het vir ons deur Christus ’n onoplosbare genadegawe geskenk – ’n roeping! Elkeen van ons ontvang ons eie roepingsverhaal. Hierdie verhaal is ’n lewenslange proses, en elkeen van ons se proses lyk anders. Maar God se liefde en genade bly dieselfde en onveranderlik daarin.
-
124
Erediens - 28 September 2025
PREDIKER: Nadia Muller TEKS: Psalm 146 TEMA: Waar is jou vertroue? Psalm 146 is een van die lof- of halel-psalms, die eerste van vyf aan die einde van die psalmboek. Dit daag ons uit om ernstig te wees oor waar – of by wie – ons vertroue lê. God wat van die begin tot in ewigheid daar is, moet ons vertroue en lof kry. Hierdie vertroue is nie iets wat soos ’n lig aan- en afgeskakel word nie, maar ’n leefstylkeuse.
-
123
Erediens - 21 September 2025
PREDIKER: Nadia Muller TEKS: Psalm 113 TEMA: God wat afbuk en optel Ons weet God is groot en almagtig, ons weet Hy is die Skepper van hemel en aarde, maar ons vergeet soms dat dieselfde God ook afbuk en ons van die ashoop af optel, ons uit die stof ophelp en afskud. En dit is dieselfde God wat dit vir almal doen – of ons dink hulle verdien dit of nie.
-
122
Erediens - 07 September 2025
PREDIKER: Nadia Muller TEKS: Psalm 1 TEMA: Gelukkig is die mens… Ons dink dikwels geluk is iets om na te streef. Ons hou dit in ons visier en dink: net nog daardie ding of prestasie gaan vir ons geluk bring. Tog voel dit soms of geluk soos ’n reënboog is – altyd net buite bereik. Psalm 1 herinner ons dat geluk nie gevang kan word nie, maar kom wanneer ons kies om anders te kyk en anders te leef as wat die wêreld vir ons voorskryf. Hier ontdek ons wat ’n mens regtig gelukkig maak.
-
121
Erediens - 10 Augustus 2025
Prediker: Nicolette Bester Teks: Hebreërs 10:1-3; 8-18 Tema: Geloof wat volhard – wat beteken dit? Geloof – ’n woord wat ons so maklik gebruik maar tog so moeilik werklik kan begryp. ’n Ander verstaan kan wees “vertroue in God”. Die twee loop hand-aan-hand. As mense is ons geneig om te wil volhard in alles wat ons aanpak, ook in ons geloof. Ons stel ons eie ideale op en probeer ons uiterste bes om dit te realiseer. Maar die lewe bring draaie, swaaie en vreemde kinkels. Wat beteken dit vir daardie geloof wat ons so naby aan ons hart hou? Hoe verstaan God die geloof wat ons uitgiet? Op die einde van die dag is geloof daardie vertrouensverbond wat God met ons gesluit het – ’n geskenk wat onvervangbaar en onruilbaar is. Kom ontdek saam wat hierdie geskenk vir jou en my beteken.
-
120
Erediens - 03 Augustus 2025
Prediker: DJ Muller Teks: Rom. 8:35-39 Tema: “Welwese” is baie meer as ’n gevoel In ons lewens is daar seisoene waarin ons geweldige swaarkry beleef. Soms is hierdie seisoene ’n paar ure lank, ander kere hou dit vir jare aan. Dikwels word ons in hierdie tye lamgelê deur bekommernis, hartseer of woede. Om dan te dink oor welwese (to be well) is soos om jou hand uit te steek na die maan en te dink jy kan daaraan raak. Normaalweg is ons oorlewingsplan om die seisoen met sy storms uit te wag, maar is dit wat die Here van ons vra? MUSIEK: Provided to YouTube by Catapult Reservatory, LLC It Is Well with My Soul · Wintley Phipps Amazing Grace (The Best of Wintley Phipps) ℗ 2018 Discovery House Music Released on: 2018-10-01
-
119
Erediens - 20 Julie 2025
Teks: Lukas 10 Prediker: DJ Muller Tema: Wanneer is besig-wees genoeg? Produktiwiteit! Dis iets waarna ons daagliks streef. Ons gebruik hulpmiddels soos outomatisering en kunsmatige intelligensie om dit te verhoog. Waarom? Omdat ons meer wil doen. Ons wil beter presteer. Dit voel selfs goed om te vertel hoe besig ons is — dat ons nie altyd by alles uitkom nie. Selfs in die kerk jaag ons soms nóg ’n projek, nóg ’n bediening, nóg meer diensbaarheid na. Is dit verkeerd? Nie noodwendig nie. Maar óók ja. Wanneer is besig-wees genoeg? Jesus se antwoord op hierdie vraag mag jou dalk verras.
-
118
Erediens - 13 Julie 2025
Teks: Kolossense 1:9-20 Prediker: Nadia Muller Tema: Is my God groot genoeg? Ons almal ken die kinderlied: “My God is so groot, so sterk en so magtig, daar’s niks wat my God nie kan doen nie.” As kinders – of selfs as volwassenes – sing ons dit uit volle bors, maar nie altyd uit volle hart of met volle oortuiging nie. Ons beeld van God bly dikwels klein, en ons sukkel om gemaklik voor Hom te leef – om net te wees. So die vraag is: As ek aan God dink, is Hy regtig groot genoeg dat alles van my – die mooi én die lelik, die vreugdes én die hartseer – in Hom ruimte vind? Of is Hy net ’n Sondagoggend-God, ver en verwyderd? En as ek aan God dink, is Hy groot genoeg om ook mense wat anders is as ek – my grootste vyand, mense van ander gelowe, ander oortuigings, ander agtergronde – in te sluit?
-
117
Erediens - 06 Julie 2025
Tema: Geloofsonderskeiding: Wat beteken dit? Teks: Lukas 10:1–12, 16–19 Prediker: Nadia Muller Ons wens soms vir ’n stem uit die hemel of ’n vers in die Bybel wat ons sommer op die naam noem en al ons vrae beantwoord — maar dis nie hoe dit werk nie. As God dan nie altyd vir ons duidelike antwoorde gee nie, wat is die belang van geloofsonderskeiding?
-
116
Pinkster 2025: Deel 4 - Skoenlapper, hoekom kruip jy nog?
Vind hier opnames van ons mees onlangse preke.
-
115
Pinkster 2025: Deel 3 - Veranderkrag van Bo
Vind hier opnames van ons mees onlangse preke.
-
114
Pinkster 2025: Deel 2 - Wat is ek besig om te word?
Vind hier opnames van ons mees onlangse preke.
-
113
Pinkster 2025: Deel 1 - Sien jy die ooreenkoms?
Vind hier opnames van ons mees onlangse preke.
-
112
Erediens - 18 Mei 2025
Prediker: Nadia Muller Tema: From thanksgiving to thanksliving Teks: 1 Tess. 5:16–22; Ps. 148 Ons leer ons kinders om dankie te sê. Ons sê dankie as ons iets ontvang het of iemand iets vir ons gedoen het. Maar wat as ons leef in dankbaarheid? Hoe sal ons anders begin leef as ons in elke dag se elke oomblik bewus is van God se gawes en elke oomblik vir Hom dankie sê?
-
111
Erediens - 06 April 2025
Prediker: Nadia Muller Teks: Jesaja 43:19 Tema: “Kyk, Ek gaan iets nuuts doen. Kan julle dit nie besef nie?” Ons verlede vorm ’n belangrike deel van wie ons is. Dit gee konteks, identiteit en herinneringe. Waar jy vandaan kom, beïnvloed wie jy vandag is – maar dit hoef nie te bepaal waarheen jy oppad is nie. Te dikwels hou ons aan die verlede vas op ’n manier wat ons verhinder om God se nuwe drome vir ons lewe raak te sien. Ons verlang na wat was, of ons bly vasgevang in pyn, skuld of gemiste geleenthede. Maar God roep ons om opnuut te kyk. Hy is besig om iets nuuts te doen. Selfs al is dit nog nie duidelik nie – dit is besig om te groei. Ons word uitgenooi om ons verlede te eer, maar nie daarin vas te bly nie. Om met hoop en vertroue vorentoe te beweeg na die toekoms waaroor God vir ons droom. ’n Toekoms van lewe, van nuwe begin, van heling en hoop. Mag jy dit raaksien. Mag jy dit waag om saam met God vorentoe te beweeg.
-
110
Erediens - 30 Maart 2025
Nadia wys 'n video tydens die diens. In hierdie opname, sê sy wanneer jy gou na die video moet kyk. Kyk die stukkie daarvan wat hier begin (dit is omtrent so 2min lank): https://youtu.be/gYF1AsOmoW8?si=EI41w7L0RHSBheZB&t=4210 Video:
-
109
Erediens - 09 Maart 2025
Prediker: Nadia Muller Teks: Deuteronomium 26:1-11 Tema: Wat was, wat is en wat kom! Met die eerste week van Lydenstyd dink ons spesifiek aan die verlede, aan Jesus, en die verlossing wat Hy bewerkstellig het. Ons word herinner aan die dankbaarheid wat ons teenoor Hom voel. Ons bevind ons tans in ’n dankseisoen in die gemeente, en Nadia sal meer inligting hieroor deel tydens die aankondigings in die diens. In Deuteronomium hoor ons van dankoffers en oesoffers – en al doen ons dit nie meer op presies dieselfde manier as die Israeliete nie, leer ons steeds uit hulle getroue offers van danksegging aan God vir die verlede, hede en toekoms. Ons leer ook oor volslae vertroue in God. Ons altare is dalk nie meer van klip nie, maar ons kan steeds ons offers voor God bring. Hoe lyk ons altare en offers vandag?
-
108
Erediens - 02 Maart 2025
Prediker: Nadia Muller Teks: Eksodus 34 Tema: Oopgevlek voor God Wat beteken dit om oopgevlek voor God te wees? Om sonder maskers, voorgee of namaak, net eerlik, eg en broos voor Hom te staan? Ons verhouding met God word dikwels verhinder deur sluiers – sluiers van tradisie, wêreldse gewoontes, skuldgevoelens en vrees. Maar eers wanneer ons hierdie sluiers oplig, kan ons God sien en herken vir wie Hy vir ons wil wees. Wanneer ons oopgevlek voor Hom staan, begin ons Hom op verrassende maniere en plekke in ons lewens ontmoet.
-
107
Erediens - 16 Februarie 2025
Prediker: Nadia Muller Teks: Jeremia 17:5-10 Tema: Die probleem van die hart, is die hart van die probleem Ons sê so maklik dat ons op die Here vertrou, maar as ’n mens kyk na die statistieke van mense wat sterf aan hartaanvalle, depressie en ander stresverwante siektes, besef ons dat ons dit dalk net sê – terwyl ons eintlik net op onsself staatmaak. God word maklik net ’n Sondagoggend-, Bybellees- en bid-God, in plaas van die Een op wie ons regtig daagliks vertrou. Ons gesels oor hoekom dit belangrik en nodig is om werklik op God te vertrou, en ons deel praktiese idees oor hoe ons dit in ons alledaagse lewe kan doen.
-
106
Kinderdiens - 09 Februarie 2025
Prediker: Nadia Muller Teks: Jes. 6:1-8; Luk. 5:1-11 Hoe roep God ons vandag? Dit lyk dalk anders as in die Bybel – daar is nie engele met warm kole soos by Jesaja nie, en Jesus loop nie meer fisies op die aarde rond soos in Lukas nie. Tog praat God steeds met ons en roep Hy ons om vir Hom te leef en te werk! Ons gesels oor belangrike vrae soos: • Hoe weet ek as God my roep? • Hoe oud moet ek wees vir God om my te gebruik? • Waarvoor roep God my? • Roep God almal op dieselfde manier? • Hoe moet ek leef as ek sê God het my geroep?
-
105
Erediens - 26 Januarie 2025
Prediker: Nadia Muller Teks: Psalm 19 Psalm 19 is ’n bekende Psalm wat soveel diep en mooi waarhede bevat. Om hierdie Psalm se boodskap ten volle te verstaan, delf ons dieper in die poësie van dié Psalm. Dit sal ons help om die wonderlike prentjie wat hierdie Psalm van God skets – as die Een wat alles insluit, alles weet, en almal ken – nog dieper te verstaan. Analise van Psalm 19
-
104
Erediens - 12 Januarie 2025
Prediker : DJ Muller Tema : Samaria: God se Gees was LAAT? Hoekom? Teks: Handelinge 8:14-17 In Samaria word die Gees eers heelwat later oor die gedoopte nuwe lidmate uitgestort. Dit is heeltemal verkeerdom met hoe dit normaalweg gebeur het! Hoekom was die Gees dan “laat”? Ons gesels onder andere oor die besondere waarde van getuies (soos dié van jul wat verlede Sondag die doop van die Buys tweeling gesien gebeur het…).
-
103
Erediens - 05 Januarie 2025
Prediker: Nadia Muller Teks: Jesaja 60
-
102
Belydenisaflegging - 21 Oktober 2024
Prediker: Nadia Muller Teks: Matteus 14:22-33 Tema: “No turning back” Om belydenis van geloof af te lê, is soos Petrus wat in geloof uit die boot moes klim en saam met Jesus op die water moes loop. Dit gaan oor geloof en vertroue in Jesus, selfs wanneer ons begin sink. Dit gaan ook oor God se genade, wat juis in die ergste storms ons redding is en bly. Die volgende jongmense het belydenis van geloof afgelê: Cara van Zyl Dieter du Toit Clarise Willemse Yanke Minnaar Foto's
-
101
Erediens - 13 Oktober 2024
Prediker: DJ Muller Teks: Hebreërs 9 Tema: Die jaar van Jesus: ‘n Koning wat vir MY intree? Verlede Sondag het ons gepraat oor gebed, veral vir ander mense (intersessie). Hierdie week neem ons hierdie tema verder, maar kyk na wat dit beteken vir ons as gelowiges dat Jesus vir óns intree by God die Vader. Ons begin deur te kyk na die konsep van hoë priesterskap. Mag Sondag se diens vir jou moed gee en troos bring.
-
100
Erediens - 06 Oktober 2024
Prediker: Nadia Muller Teks: Lukas 11
-
99
Erediens - 01 September 2024
Prediker: Nadia Muller Teks: Matteus 26:36-46 Tema: Die jaar van Jesus: Pyn Ons sien ’n dokter, drink ’n pil, ondergaan ’n operasie, of gaan vir fisioterapie – enigiets om fisiese pyn te vermy, te voorkom of te oorkom. En dan probeer ons dieselfde met emosionele pyn, maar ons besef gou dat die statistieke oor verslawing en depressie so skrikwekkend is omdat emosionele pyn nie so maklik geïgnoreer of vermy kan word nie. Jesus leer ons om eerlik in ons pyn voor God te wees, ons begeertes aan Hom bekend te maak, en Hom dan te vertrou dat pyn ook ’n goeie doel kan dien. Kyk asb. die video wanneer Nadia in die opname daarna verwys - VIDEO: https://youtu.be/YNCoU2FsrX8?si=7KkmXr3sMWcCHFh8 Video waarna Nadia verwys
-
98
Kinderdiens - 25 Augustus 2024
Prediker: DJ Muller Teks: Verskeie Tema: Speel die lewe se groot wedstryd In hierdie diens leer ons oor hoe om ons geestelike lewens te leef deur die voorbeeld van netbal te gebruik. Net soos in ’n netbalwedstryd waar ons hard moet oefen, fokus moet hê, en nooit moet opgee nie, is ons Christelike lewens ook ’n wedloop waarin ons altyd ons beste moet gee. Ons praat oor hoe ons ons oog op Jesus moet hou, net soos ’n netbalspeler op die doelpaal fokus, en hoe ons elke dag met toewyding moet leef om meer soos Jesus te word. Ons leer ook dat dit belangrik is om sondes af te lê en om altyd aan te hou probeer, selfs as ons foute maak, want net soos in ’n netbalwedstryd, is dit die volharding en die regte fokus wat ons die ware oorwinning bring.
-
97
Erediens - 18 Augustus 2024
Prediker: Nadia Muller Teks: Johannes 4 Tema: Die jaar van Jesus: Om vir Jesus water te gee. Daar is soveel wat ons by Jesus kan leer in hierdie gedeelte, veral oor hoe Hy mense ontmoet en kies wie Hy ontmoet. As volgelinge van Jesus streef ons daarna om al hoe meer soos Hy te wees, maar dikwels is ons eerder soos die vrou in hierdie verhaal—ons sien Jesus nie raak wanneer Hy reg voor ons staan nie.
-
96
Erediens - 11 Augustus 2024
Prediker: DJ Muller Teks: Rom. 12 Tema: Trio vir die wêreld: God, ek en my geloofsgemeenskap Baie keer hoor ons mense sê dat hulle nie regtig ‘n kerk of ander vorm van geloofsgemeenskap nodig het nie, want “hulle saak met God is reg”. Vandag kyk ons na hoe God, elkeen van ons en ons kerk in mekaar steek en hoe ons sáám die antwoord vir die wêreld is.
-
95
Erediens - 04 Augustus 2024
Prediker: DJ Muller Teks: Joh. 10, Ps. 42 Tema: “Wanneer sal ek ooit tevrede voel?” Baie keer voel ons leeg, en onbevredig. Ons strewe na meer en groter, maar voel steeds nie beter (voller) nie. Wanneer sal ons werklik tevrede voel? Wanneer kom ons op ‘n punt waar ons voel “ek het genoeg”? Is dit eers wanneer ek die nuutste KIA ry? Begin die “lewe” dan vir my? Volgens KIA... Ja! Volgens Jesus?
-
94
Erediens - 21 Julie 2024 (Dr. Siegfried Louw)
Baie keer word ons lewens té besig, té vol en té gejaag. Dan bars ons damwalle en veroorsaak dit groot skade. Siegfried gesels oor wat ons kan doen wanneer ons op hierdie punt kom. Ons kyk na wat Jesus ons leer hieroor en fokus op hoe nuwe insigte ons kan help om 'n nuwe uitsig te hê. Teks: Matteus 6:22-34 (2020-Vertaling)
-
93
Erediens - 14 Julie 2024
Prediker: Nadia Muller Kategese: Tydens diens in saal Teks: Lukas 15:1-7 Tema: Die jaar van Jesus: Verlore skape Jesus vertel die gelykenis van die verlore skaap, waarin die herder 99 skape agterlaat om een verlore skaap te gaan soek. Hierdie gelykenis volg nadat die skrifgeleerdes hul ontevredenheid uitgespreek het omdat Jesus saam met sondaars kuier. Deur hierdie gelykenis probeer Jesus die diepgaande liefde en genade van God verduidelik, spesifiek gerig op diegene wat verlore is. Kom luister, dink en ervaar saam, terwyl ons ons verbeelding inspan om die volle betekenis hiervan te ontdek.
-
92
Erediens - 23 Junie 2024
Prediker: DJ Muller Teks: Johannes 13 Tema: Die Jaar van Jesus: Diensbare leierskap Dit gaan nie so goed met die wêreld soos was ons wil hê dit moet gaan nie. Daar is oorloë, korrupsie, hongersnood, armoede en algemene verval. Lyk die wêreld dalk so omdat ons wag vir iemand anders om dinge beter te maak? Mis ons dalk belangrike geleenthede omdat ons met ons koppe in die wolke leef? Ons gesels Sondag oor hoe Jesus se dissipels 'n "crucial" geleentheid gemis het om diensbaar te wees. Ons kyk veral na hoe Jesus daarop reageer en daaroor voel.
We're indexing this podcast's transcripts for the first time — this can take a minute or two. We'll show results as soon as they're ready.
No matches for "" in this podcast's transcripts.
No topics indexed yet for this podcast.
Loading reviews...
ABOUT THIS SHOW
Vind hier opnames van ons mees onlangse preke.
HOSTED BY
Simondium Familiekerk
CATEGORIES
Loading similar podcasts...